Dis nie persoonlik nie, of is dit?
top of page

Dis nie persoonlik nie, of is dit?


“Ek het dit nie persoonlik bedoel nie!” Dis ’n gewilde reaksie wanneer daar konflik in die lug is. Wie bepaal wat is persoonlik? Berus dit by die spreker, of berus dit by die ontvanger van enige opmerking? Waar word die grensdrade in enige gesprek getrek tussen onpersoonlik en kwetsend-persoonlik? Een persoon se emosionele respons is blykbaar vir ’n ander persoon ’n doodgewone opmerking. Kan ons skuil agter ons eie sienings hiervan? Kan ons elke keer wegkom met die verskoning dat ons maar net eerlik is? Of reguit? Nee, daar moet beter grense rondom ons woorde wees as ons eie opinies of gevoelens hieroor. Een duidelike Bybelse grensdraad tref ek juis in 1 Petrus 2:15-17 aan. Dit leer duidelik dat ons alle mense moet respekteer.

Alle mense vereis ons respek, nie net mede-gelowiges nie! Alle mense het waardigheid. Ons as navolgers van die Here Jesus weet dit; daarom stel ons onsself elke dag fyn in sodat Spreuke 18:12 nooit van ons waar word nie. Hierdie vers sê met name dat onnadenkende woorde soos messteke is. Of Spreuke 30:14 wat sê dat sommige mense se tande soos swaarde is en hulle kake soos messe. Gedurig pak ons ons lewensgevaarlike praat-apparaat weg. Nee, dit beteken nie ons is gemuilband nie. Wanneer dit die slag nodig is moet ons met mekaar persoonlik-eerlik wees. Hiermee saam moet ons weet daar's maar altyd 'n paar hiper-liggeraakte mense in die omgewing wat letterlik enige opmerking waarvan hulle nie hou nie persoonlik opvat. Hulle mag ons nooit manipuleer of gevange hou met hulle fyngevoeligheid nie. Ons mag praat. Die toets vir onsself is of ons dit in liefde doen. En ons mense wil opbou en ondersteun met ons woorde. Dan mag ons persoonlik praat. Liewers: dan mag ons persoon-gerig op die regte maniere met mekaar praat.


bottom of page