Die belangrikste keuse in my lewe
top of page

Die belangrikste keuse in my lewe


Terwyl ek en Brink op ‘n toer deur Suid-Afrika is om ons 50ste huweliksherdenking te vier, kuier ons by familie en ou vriende – lekker kuiers, bemoedigingskuiers en selfs ‘n afskeidskuier. Laasgenoemde was die gedenkdiens van ‘n jarelange vriend, waar dr. Jean Strydom ons daaraan herinner het dat die dood nie beteken dat ‘n lig afgeskakel word nie; dis bloot dat ‘n lamp doodgeblaas word omdat die dag breek. En nou is ons vriend Chris in die heerlike teenwoordigheid van die Ewige God self!

Dit sluit toe aan by ‘n gesprek met ander vriende oor Erwin Lutzer se One minute after you die, waar ons gesels het oor die wonder van sekerheid van redding, en hoedat die dood dan eintlik ‘n “geskenk” is van my Hemelse Vader aan my … ‘n deur na ‘n lewe vry van pyn en lyding, ‘n lewe wat onbeskryflik wonderlik is.

Ons vergeet egter so maklik dat elkeen van ons ‘n keuse moet uitoefen ten einde hierdie verstommende geskenk te ontvang … die lewensbelangrike keuse waarmee ons in Johannes 1:12 gekonfronteer word: Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. (1983 Vertaling) En al het ekself al die keuse vir Jesus gemaak, is daar ander wat dit nog nie gedoen het nie.

‘n Aangrypende voorbeeld hiervan is toe Erich op ‘n dag besef het dat hy daagliks asof in ‘n glastonnel by familie, vriende en vreemdelinge verbyreis in die rigting van die hemel, terwyl hulle dalk in alleryl in die teenoorgestelde rigting op pad is! Dit het my opnuut gemotiveer om te bid vir mense wat op pad is na ‘n ewigheid sonder Jesus, en om waar ek kan saadjies te saai en God te vertrou om die groei te gee tot die wedergeboorte van iemand wat nog nie daardie wonderlike sekerheid het van ‘n ewigheid in die teenwoordigheid van Jesus nie.

Aan die een kant is die uitnodiging daar (Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop… Openbaring 3:20). Aan die ander kant is daar Paulus se voorbeeld van dringendheid om hierdie blye boodskap aan ‘n stukkende en ongeredde wêreld uit te dra: hy skaam hom nie vir die Evangelie nie, maar voel ‘n verpliging en het ‘n begeerte om vir ander van Jesus te vertel. (Romeine 1:14-16). Beide hiervan is ‘n keuse wat ek self moet maak.

[Lees gerus meer oor hierdie keuse op https://knowgod.com/af/fourlaws/ ]


bottom of page