Hoe kan ons as ouers ons "harte" voorberei vir skool en ook vir die lewe?
top of page

Hoe kan ons as ouers ons "harte" voorberei vir skool en ook vir die lewe?


* Maak jou huis 'n veilige ark vir jou kind. In Hebreërs 11:7 lees ons: Noag het die ark gebou om sy huisgesin te red. Jou huis moet dus 'n hawe wees vir jou kind, waar hy/sy veilig voel en na 'n moeilike dag kan ontspan en herlaai. Jou huis kan nie 'n veilige ark wees, as daar die hele tyd spanning tussen mamma en pappa is of as daar die hele tyd eise en hoe verwagtinge aan die kind gestel word nie.

* Grense is baie belangrik. Goeie roetine help ook om goeie grense te handhaaf. Daar moet 'n tyd wees vir eet, huiswerk doen, speel en slaap. 'n Kind het ook 'n goeie dosis van vitamiene "N" nodig. Dit beteken jy hoef nie net vir alles "ja" te se nie.

* Jou kind moet leer om verantwoordelikheid te aanvaar vir sy/haar dade. Moenie dadelik ingryp of red, as jou kind by die skool vir iets gestraf word nie.

* Dit is baie belangrik dat julle as huisgesin mekaar met respek hanteer. Praat mooi met mekaar. Moenie jou kind se onderwyser voor hom of haar verkleineer nie. Leer hom of haar om alle met respek te behandel.

* Eet ten minste een ete per dag saam as 'n gesin om die tafel. Daar kry kinders nie net die kans om goeie tafelmaniere aan te leer nie, maar kry die geleentheid om ook iets van sy/haar dag te vertel. In 'n onlangse ondersoek is bevind dat die Nederlandse kinders die gelukkigste kinders in die wêreld is. Een van die redes wat aangevoer is, is dat hulle saam as gesinne om 'n etenstafel eet.

* Beperk tegnologie. Kinders het nie slimfone nodig. Koop vir jou kind 'n basiese selfoon. Internet-gebruik moet gemonitor word en TV- kyk tye moet beperk word. Onthou, ouderdomsbeperkinge is daar vir 'n rede!

* Wees onvoorwaardelike lief vir jou kind. Jou kind moet voel hy/sy word liefgehê. Se dit en wys dit met drukkies en dade van liefde. Moenie jou kinders met mekaar vergelyk nie. Elkeen moet die ruimte he om net homself/haarself te wees.

* Moenie te veel klem le op akademiese en sportprestasies nie. Dit is nie waaroor die lewe gaan nie. Onthou om mooi karaktereienskappe te komplimenteer, bv. Ek is so bly om te hoor dat jy jou kos gedeel het met 'n maatjie.

* En dan die heel belangrikste: Om as gesin saam die Here te dien. Wees vir jou kind 'n voorbeeld in woord en daad. In Deuteronomium 6:7 lees ons:

Herhaal hierdie woorde oor en oor vir julle kinders. Praat daaroor by die huis en wanneer julle op pad is, wanneer julle le of wanneer julle opstaan.

Liewe mammas en pappas, sterkte met die grootmaak van julle kinders! Geniet hulle en wees lief vir hulle!


bottom of page