Antwoorde oor die skepping [resensie]
top of page

Antwoorde oor die skepping [resensie]


Don Batten, David Catchpoole, Jonathan Sarfati, Carl Wieland. Antwoorde oor die skepping: Meer as 60 vrae wat die meeste gevra word oor skepping, evolusie, en die boek Genesis beantwoord. Creation Book Publishers. 2013

Die stryd tussen mense wat aanvaar dat Genesis se skeppingsweergawe letterlik vertolk moet word en ander wat meen dat ewolusie as teorie gebruik kan word om die ontstaan van die heelal en spesifiek lewe op aarde te verklaar, woed al lank en het nog nie in intensiteit of felheid afgeneem nie. Hier het jy die proponente van ‘n letterlike verstaan van Genesis 1-11 aan die woord.

Hoekom is dit belangrik vir die skrywers dat die ses skeppingsdae letterlik verstaan moet word, as dat God in ses dae alles geskep het en dat elke dag 24 uur lank was? Kom ek noem die redes wat gegee word: as jy dit nie glo nie, ondermyn dit die goedheid van God, ondermyn dit die evangelie wat vertel van God se openbaring aan die mens, ondermyn dit jou leer van die laaste dae en ondermyn dit die manier waarop jy die Skrif uitlê omdat jy ook nie die res van die Bybel kan vertrou nie en ook nie die ander leerstellings kan aanvaar wat op Genesis gebaseer is nie. Daarom sou ‘n mens wel kon redeneer dat ons nie weet wat die skrywer met sy vertelling bedoel het nie maar die probleem, beweer die boek, is dat dit dan veroorsaak dat die res van die Bybel ook nie geglo gaan word nie.

Die probleem het natuurlik te doen met die wetenskaplike wêreldbeeld wat meeste hedendaagse mense gebruik en iets sê soos die volgende: die heelal is miljarde jare oud en het in ‘n oerknal ontstaan, die aarde is ook etlike miljarde jare oud en lewe op aarde is op ‘n stadium deur een of ander katastrofe vernietig. ‘n Vorm van daardie lewe het bly voortbestaan en evoleer tot die onderskeie lewensvorme wat ons ekostelsel kenmerk.

Hierteenoor staan die standpunt dat die aarde slegs sesduisend jaar oud is. Ander sake wat in dié boek bespreek word, is: wat van sterre wat baie ver van die aarde is indien die heelal eintlik baie jonk is? Wie was Kain se vrou indien daar aanvanklik slegs een gesin op aarde was? Waar pas Genesis se verwysing na reuse in? Was die sondvloed (in Noag se tyd) wêreldwyd of slegs plaaslik? Hoe het sout- en varswatervisse albei die vloed oorleef? Wat van die Ystydperk waarvan sommige navorsers praat? Hoe het diere by Australië uitgekom? En waar kom die onderskeie rasse vandaan?

Die laaste woord oor ewolusie en kreasionisme, asook die manier waarop ons die Bybel lees, en spesifiek die oerverhale van Genesis 1-11, is nog lank nie gespreek nie. Intussen kan dié boek jou help om een kant van die argument te volg.


bottom of page