Ek weet iets van jou
top of page

Ek weet iets van jou


Ek weet iets van jou wat baie ander mense dalk nie weet nie. Jesus het my dit geleer. “Wat?” vra jy dalk. Wel, ek het by Hom geleer dat jy my naaste is. Dag vir dag leer ek by Hom om vir jou om te gee soos vir myself. Ek weet ek kan nie vir God liefhê as my hart hard is teenoor jou nie. God se liefde is prakties en konkreet. Sy liefde is nie net woorde nie, maar nuwe verhoudings en nuwe dade. Daarom het ek geleer om nie boek te hou van ander mense se foute nie. Ook nie van joune nie. Nooit bevraagteken ek jou motiewe nie. Ook verwag en glo ek die beste van jou soos wat Paulus my leer in 1 Korintiërs 13.

Jy sal dalk agterkom dat ek deesdae groter geduld het met jou. My woorde is sagter en meer opbouend. Omdat ek altyd eerlik is met jou sal ek vir jou sê as daar iets is wat krap tussen ons. Nooit sal ek jou agteraf beskinder of jou naam met modder gooi nie. Jou integriteit maak vir die Here saak; ook vir my. As jy in die nood is sal ek daar wees vir jou. Jou laste kry graag ’n rusplek op my skouers. Ek doen dit nie net omdat jy gaaf of vriendelik is nie. Of omdat ek wil hê jy moet dit terugdoen vir my nie. Ek volg die roete van naasteliefde met jou omdat ek weet die Here gee baie om vir jou. Oor en oor leer ek by Hom om dieselfde te doen. Om jou te dien vul my lewe regtig met eindelose vreugde.


bottom of page