“Blind Hope” – absolute vertroue
top of page

“Blind Hope” – absolute vertroue


“No pit is so deep that God's love is not deeper still." Corrie Ten Boom

Soms loop ons met ‘n las rond waarmee ons nie na die Here toe gaan nie, maar eerder self probeer regkom.

In die boek, "Blind Hope", vertel die outeur Laurie Sacher van haar emosionele stryd en hoe sy vir jare geworstel het om emosioneel kop bo water te hou. Sy was op ‘n donker en alleenplek in haar lewe en het gevoel om tou op te gooi. Nadat sy ‘n ou, vuil en erg verwaarloosde weggooi hond aangeneem het, het haar pad van heling egter begin.

Met elke trappie wat Mia, die hond, moes gee op die pad na herstel, is Laurie gekonfronteer met haar eie wanpersepsies oor God en Sy liefde vir haar. Die onsekerheid by Mia of iemand vir haar, ‘n lelike ou hond, kon liefhê, was ook Laurie se eie. Was sy te ver heen om liefgehê te word – kon God haar nog liefhê? Laurie was geskok toe sy in essensie haar eie spirituele lewe en haarself in hierdie hond gesien het. Sy moes weer leer om met vrymoedigheid na God te kom met al haar probleme – hoe groot of klein dit ookal was. Sy moes weer leer om op Hom te vertrou. Mettertyd het sy haar gevoel van waardeloosheid oorkom, besef dat sy spesiaal is en God se koesterende liefde vir haarself ervaar.

Wanneer ek stil word by my Hemelvader deur my daagliks te verdiep in sy Woord, kom herinner die Heilige Gees my aan sy onvoorwaardelike liefde, hoor ek hoe spesiaal ek vir Hom is, dat die hare op my kop getel is, dat Hy alles van my af weet en my steeds liefhet – dat ek nooit te ver heen kan wees vir Hom om my lief te hê nie. (Ps 139:1-10)

Maak nie saak wat my omstandighede is of die las wat ek dra nie. Ek kan na die Here toe gaan waar Hy met ope arms op my wag! Hy sal nooit van my vergeet nie. Ek hoef Hom nie met ‘n teologies korrekte gebed te beïndruk nie – ek kan kom net soos ek is, met ‘n stamelende, kinderlike gebed.

Ps 55:23:” Laat jou sorge aan die Here oor, Hy sal vir jou sorg. Hy sal die regverdige nie in die steek laat nie.”

Dit is juis waarvoor Jesus aan die kruis kom sterf het – dat ek en jy onder Sy bloed kan staan en as regverdige gereken kan word.


bottom of page