Love is oxygen [resensie]
top of page

Love is oxygen [resensie]


Jarrid was vir baie lank die slagoffer van depressie en wanhoop, iemand wat angsaanvalle gekry het omdat hy nie kans gesien het om met die lewe aan te gaan nie. Dit was genadiglik nie die einde van sy storie nie. Langs die pad het iets met hom gebeur. Sy lewe het grondig verander: hy het die omvattende en omsluitende liefde van die Here beleef.

Sy verhaal is van iemand wat gered is deur liefde, en wat dag na dag van liefde leef. Die liefde van God het sy asemhaling geword. Hy asem die lug of die wind van God in, en uit. Die asem wat hy inasem, gee hom die moed om op te staan. En die asem wat hy uitasem, bevestig die doel hoekom hy opgestaan het: om ‘n stukkende wêreld wat ly, te dien.

Jy kan gerus sy blog besoek, by jarridwilson.com om meer van die mens agter te kom. Wat jy in dié boek vind, is eerder ‘n lofsang aan die Here wie se liefde en genade ‘n mens se lewe transformeer tot iets moois.

Jarrid vertel hoe hy na God in sy ellende gesoek het en gevind het dat sy stem stil is. En dan skryf hy oor onbeantwoorde gebede en die rol wat ons eie sondigheid en selfsugtigheid of narsissisme daarin speel. Hy verwys na die slot van 1 Korintiërs 13, dat ons hier slegs dofweg sien asof ons deur mis kyk. Maar ons verwag die dag dat die son gaan deurbreek en alles gaan verlig. Dan sal ons so duidelik soos God sien, ons sal verstaan wat met ons gebeur het en ons God ken soos Hy ons ken.

Hieruit skep hy moed om sy lewe in God se hande te plaas en Hom ten volle te vertrou. Ook met jou gebrokenheid kan jy Hom vertrou, want Hy is op pad met jou. En sodra jy aan Hom die ruimte skep wat Hy verdien, vind jy verfrissing vir jou mens-wees op ‘n daaglikse basis. Want dit is na alles waarvoor die mens geskep is: om in gemeenskap en vriendskap met die Skepper te leef.

‘n Eerlike boek wat vertel van wanhoop en twyfel, maar ook hoe geloof en hoop dit oorwin. Indien jy iemand ken wat deur moeilike tye gaan, is dit ‘n woord van die Here wat jy vir hulle as geskenk kan gee. Natuurlik is dit ook ‘n goeie geskenk vir jouself. Na alles, wie van ons beleef nie ook tye van vertwyfeling en wanhoop nie?


bottom of page