Draers van Lewe

February 20, 2018

Sy sien uit die hoek van haar oog dat ek by haar verby gaan stap, op pad uit. Vinnig kyk sy waardig voor haar uit, asof die rolstoel waarin sy sit ʼn soort koninklike troon is. Maar haar kop bly effens skuins gedraai. Sy luister na die gesprek tussen haar dogter en die apteker. Hulle bekyk en bevoel ʼn nuwe donkerrooi rolstoel. Ek hoor iets van spesiale voetstukke. Die tannie in die grys rolstoel glimlag stil-tevrede. Blykbaar bring die nuus van die nuwe rolstoel verligting oor iets.

 

Dan stap ek tussen die twee rolstoele deur om buite die apteek te kom. Kinders gil, winkeltrollie-wiele klak op die teëls en mense skree in die wind wedersydse bevele uit. Maar by die hoofdeure van die sentrum staan sy en wag. Dis asof sy verby ons almal kyk na ʼn wêreld wat nog op pad is, want ook sý glimlag effens. Haar lippe is dieselfde rooi as die nuwe rolstoel, met so ʼn ekstra glans in. Dromerig hou sy haar hande saggies om haar maag. Dit is nie meer lank nie, dan is dit tyd vir die koms van die baba. Die wind ruk skielik aan haar klere, maar sy draai met die rustigheid vanself om dit reg van voor op haar gesig te voel. Haar hare waai uit haar gesig. Haar oë gaan toe. Die glimlag verdiep.

 

Soos ek by haar verbybeweeg, sien ek ʼn moeë pa wat gedwee met sy laerskooldogter in sy arms probeer instap. Hy glimlag net effens – sy rug duidelik onder stremming. Maar die kind lag uitbundig. Sy het vrolike pienk dansklere aan. Dit lyk te koddig. Die feetjie-gewaad-lyfie wat so vasberade vasklou aan die moedelose pa. Maar hy los nie. Dis ʼn bondeltjie wat hy met graagte dra.

 

Meteens help die pa my om te verstaan wat ek sopas gesien het. ʼn Senior burger wat met waardigheid oud word, want sy kry ʼn veeldoelige rolstoel wat haar gewig en bene kan dra. Haar dogter is daar om die transaksie te beklink. Sy dra as’t ware haar ma op haar oudag.

 

Net so is daar ʼn swanger ma, vol afwagting. Sy dra met antisipasie die gewig binne-in haar. Sy sien al die toekoms deur die oë van haar ongebore kind. Ek weet nie hoe dit voel om ʼn kind in jou te dra nie. Maar ek weet hoe daardie pa voel, wat geduldig met sy dogter vorentoe beur.


En toe wonder ek oor God. Die Een wat daarvoor bekend is om ander te dra. God wat geduldig aanhou vashou, wat met ʼn vonkel in die oog droom oor jou toekoms en wat nie laat los nie.

 

Mag God se unieke manier van dra, jou twee goed leer:

  1. Hoe om toe te laat dat ander jou dra wanneer jy nie meer kan nie;

  2. Hoe om ander te dra terwyl jy hulle waardigheid koester.

     

     

     

     

     

     

     

     

     

Please reload

ONLANGSE ARTIKELS

November 15, 2019

November 12, 2019

November 6, 2019

November 5, 2019

Please reload

AFDELINGS & SKRYWERS
LEES SOORTGELYKE ARTIKELS
Please reload

© 2019 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: