Praying for the cure [resensie]
top of page

Praying for the cure [resensie]


Mary J. Nelson. Praying for the cure: A powerful prayer guide for comfort & healing from cancer. Shiloh Run. 2016

Mary Nelson is ‘n oorlewende van kanker. Sy lei die Pray for the Cure kankerbediening by ‘n kerk in Minnesota in die VSA. Haar ander boeke dien ook om mense wat ly naby aan die hart van God te bring.

Ek het gevind dat selfs ongelowige mense begin bid wanneer hulle die woorde hoor dat hulle kanker het. Kankerlyers gaan dikwels deur fases van hoop en wanhoop, geloof en twyfel soos wat die siekte ontwikkel. En selfs gelowige mense se geloof word soms beproef wanneer behandeling nie vir die kanker help waaraan hulle ly nie.

Dié boek vertel jou hoe om te bid wanneer jy deur dié fases gaan. Dit konsentreer op God se Woord as die volmaakte medisyne en op sy goedheid wat te alle tye vir die mens waar is. Dit vertel jou van God se koninkryk wat naby is, wat hoop bied in alle omstandighede. Dit vertel van God se geskenk wat te wonderlik vir woorde is. En dit beklemtoon die goeie nuus wat in volheid in Jesus Christus openbaar is.

Jou oog word op die goeie Herder geplaas wat jou op goeie paaie ly omdat dit God se wil aan jou wil openbaar, dat Hy jou gesond wil sien. En dit vertel jou van sy leiding, en hoe jy in volmaakte sinchronisasie daarmee kan leef. Dit vertel jou van sy mag wat onbeperk is en van sy genade wat vir jou genoeg is. Jy hoor van sy stem wat ‘n sagte fluistering is, maar wat altyd moed en hoop bied. En jy beleef sy getrouheid omdat Hy die Een is wat altyd sy beloftes nakom. Jy hoor van sy vrede wat nie van dié wêreld is nie en sy geregtigheid wat jou toelaat om deur hemelse oë na jou lewe te kyk. Jy leer van sy tydsberekening waar oponthoude nooit verwerping of ontkenning is nie. En jy word na sy teenwoordigheid geneem waar Hy in al jou behoeftes voorsien. Ten laaste sien jy sy heerlilkheid wat in jou lofprysing openbaar word.

Ek dink jy kry die idee. Hier het jy ‘n boek wat ‘n kankerlyer se oog afhaal van aardse omstandighede en op Jesus Christus as die openbaring van God plaas. Die boek bestaan uit breë temas wat in kort stukkies, gewoonlik ‘n halwe bladsy of korter, ingedeel word. Dit bevat elke keer stukke goud, van wysheid en bemoediging. ‘n Ideale boek om by iemand agter te laat wat met kanker stoei.


bottom of page