Perspektief: Rooi naels
top of page

Perspektief: Rooi naels


Omdat ons in die buiteland woon, kry ons van tyd tot tyd WhatsApp boodskappe wat ons op hoogte hou van ‘n familielid of vriend se terminale siekte. So het ek onder andere ‘n kosbare foto’tjie gekry van ‘n baie dierbare vriendin se mooi rooi toonnaels waar sy in haar hospitaalbed lê. Die naels was spesiaal gedoen vir haar laaste Kersfees saam met haar familie.

Dit het my dadelik laat dink aan die storie van die Deense en Franse nonne. Toe die twee groepe ontmoet, was die Deense nonne geweldig geskok oor die Franse nonne se rooi vingernaels. “Dis heeltemal onbetaamlik!” het hulle ontsteld onder mekaar gefluister terwyl hulle aan hulle sigare trek en blou dampe uitblaas.

Hierdie is net ‘n storie, maar so tiperend van die parallaktiese fout wat ons as Christene maak wanneer ons na mekaar kyk. Ek kyk skoon verby my eie foute, tekortkominge en sonde en sien net die ander een s’n raak – en sien dit sommer heelwat groter as wat dit in werklikheid is. Geen wonder dat Jesus nodig gehad het om die gelykenis van die splinter en die balk te vertel nie. Dis so maklik om krities te wees oor die splintertjie in my man/kollega/mede-gemeentelid se oog (die ander een se vuil taal of ongeduld) en dan niks te dink van my eie geskinder of kort humeur nie. Ek kan eerder leer om met ‘n Jesus-bril na die ander persoon te kyk.

Wat my dapper sterwende vriendin betref, sy het my geleer om met Jesus-oë na my medemens te kyk – en toe sommer voor Kersfees al met rooi toonnaels die hemel ingestap! Mag my legacy, my erfenis, ook so sinvol wees.


bottom of page