Afgode in ons lewe
top of page

Afgode in ons lewe


Elia het voor die hele volk gaan staan en gesê: “Hoe lank hou julle aan met hink op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom; maar as dit Baäl is, volg hóm” (1 Konings 18:21).

Hy het beklemtoon God is ‘n jaloerse God en niemand of niks mag Sy plek inneem nie.

Wat kan vir jou ‘n afgod wees?

M. Basilea Schlink skryf in MOUNT CARMEL AND THE PROPHET ELIJAH, Evangelical Sisterhood of Mary, Darmstadt-Eberstadt, (1988) dat ons afgode in ons lewe kan uitken deur te vra: “Wat sal ondraaglik vir my wees om te verloor indien God dit van my sou wegneem- of dit nou ‘n persoon, my werk, of een of ander plesier, materiële besitting of ander dinge van hierdie wêreld is?”. Dit beteken enige-iets wat jy van groter waarde as God ag- selfs as dit op sigself goed is – want dit neem Sy plek in jou lewe in en jy verkies dit bo God. Dit sluit in:

*Jou werk, jou beroep, kan vir jou ’n afgod wees omdat jy nie vir Hom tyd in jou lewe het nie. As broodwinner spandeer jy min tyd met jou gesin weens jou lang werksure en die najaag van geld is jou vernaamste motiveerder.

*Jou reputasie, jou status word ‘n afgod wanneer jy meer van jouself dink as wat jy behoort te dink. Jy sien net na jou eie belange om en loop heeldag en spog oor jou eie suksesse. Om aan ander diens te lewer is nie vir jou belangrik nie net solank jy jouself kan bevoordeel.

*Jou familie, vrou, eggenoot, kind, kleinkind of agterkleinkind kan so baie van jou tyd in beslag neem dat die familieverhoudinge ‘n afgod word omdat God nie meer die eerste plek in jou lewe beklee nie.

*Talle mense neem die houding in van dat ‘n gesin die grootste en deftigste huis behoort te koop wat hulle kan bekostig, terwyl hulle dit in werklikheid nie nodig het nie. So ‘n huis word gou ‘n afgod, omdat dit die plek inneem van om skatte in die hemel te hê.

*Om ‘n gesonde liggaam te hê is ‘n seën van God, maar om ure voor die spieël deur te bring om jou voorkoms te bewonder of om elke dag swaar gewigte in die gimnasium rond te stoot sodat jy fikser en sterker kan word en jy verslaaf raak aan die oefening, maak dat jou voorkoms en gesondheid ‘n afgod vir jou word.

Wie dien en eer julle regtig? Vir God of julle afgode? Onthou ‘n mens kan net een meester dien!


bottom of page