Gebed plaas my buite beheer!
top of page

Gebed plaas my buite beheer!


Party gebede is niks anders as bedekte opdragte aan God nie, saam met ‘n klompie aanwysings oor wanneer om dit te laat waar word. Ons probeer om deur middel van ons gebede in beheer van sake te bly. Dis ‘n fout! Gebed is om God met alles te vertrou, en om nooit ons gesprekke as hefbome te misbruik waarmee ons druk op Hom probeer uitoefen nie. Dit is om te weet ons het ’n Vader in die hemel wat weet wat ons nodig het, soos wat Jesus ons in Matteus 6 leer. Dis om te bely dat wie ons is en wat ons het van Hom af kom. Hy en Hy alleen beheer ons lewe. Egte gebed is om leeg te wees van onsself. Ons gebede mag daarom nooit bedekte pogings wees om God se kalender en aktiwiteite te probeer reguleer nie. Daarom val ons vandag opnuut kinderlik-gelowig in by Hom. Daarom kies ons om sonder enige voorwaardes, versoeke of eise te buig voor God. Afhanklik en propvol verwondering – dit is hoe ons van nou af uit ons Hemelse Vader se goeie hand wil leef. Sy teenwoordigheid is oorgenoeg! Sy teenwoordigheid is alreeds die grootste gebedsverhoring denkbaar.


bottom of page