Acts of faith [resensie]
top of page

Acts of faith [resensie]


Davis Bunn & Janette Oke. Acts of faith: 3-in-1 value edition. Bethany House. 2011

Om die Nuwe Testament beter te verstaan, is dit nodig dat ‘n mens die wêreld ontdek waarin Jesus en die dissipels geleef het. Hoe het hulle dorpe en stede gelyk? Wat het mense aangetrek en geëet? Watter gebruike en gewoontes het hulle gehad? Hoe het hulle mekaar gegroet? En ‘n gawe manier om die wêreld waarin die Nuwe Testament afgespeel het, te ontdek, is om verhale oor daardie tyd te lees wat goed nagevors is.

Hier het jy drie sulke verhale, in een boek. Dit handel oor vroeë Christene en die gevare waaraan hulle blootgestel is, maar in die proses leer ken jy veel meer: waar het hulle gebly, hoe het die vroegste Kerk gefunksioneer, watter rol het apostels en ander leiers gespeel, waar pas gelowiges in die prentjie in?

Hier is die verhaal van ‘n Romeinse hoofman oor honderd en sy bruid van gemengde afkoms wat die opdrag kry om die waarheid uit te vind oor ‘n rabbi se dood en sy liggaam wat spoorloos verdwyn het. Die taak kos byna hulle huwelik en lewe omdat dit hulle in die donker wêreld van Joodse politiek inneem waar verraad ‘n wagwoord is.

Die tweede boek handel oor ‘n vrou wat deel van Jesus se volgelinge is maar ‘n bitter teleurstelling beleef wat haar geloof bedreig. Sal sy moed en genade kry om in die geloof te volhard? Of is die eise wat dit aan haar stel net te hoog vir ‘n gewone mens?

En die derde verhaal handel oor Jakob wat getaak is om handelaars wat met hulle kamele tussen bestemmings reis, te beskerm. Sy werk is eintlik net ‘n rookskerm want sy eintlike taak is om briewe tussen gelowiges en gemeentes te vervoer in ‘n wêreld waar dit gevaarlik is om met Christus geassosieer te word. Op pad na Damaskus gebeur egter iets wat sy hele lewe ingrypend verander.

Teen die agtergrond van spannende verhale leer ken jy die wêreld van die vroegste gelowiges en gaan die Handelinge van die Apostels vir jou nuwe betekenis kry nadat jy dié Handelinge van geloof gelees het.

Uitstekende waarde vir geld en ‘n goeie tydverdryf en ontspanning, maar meer nog: ‘n verryking van jou geloof en ‘n gawe inleiding tot die wêreld van die eerste eeu waarin Christus, sy apostels en dissipels geleef het.


bottom of page