Kook jy, of KOOK jy?
top of page

Kook jy, of KOOK jy?


Kook is groot. Toe iemand nou die dag vir my sê die jongmense daar by hulle kerk kook vir Jesus, sê ek ek is bly dat ons Christelike “Masterchefs” orals in plek het. Feit is, kos is groot. Televisieprogramme oor kos floreer. Party TV-kanale hou hulle selfs voltyds hiermee besig. Kos is regtig “big business.” Almal moet eet. Almal wil lekker eet. Boonop wil die eerste mense vinnig eet (is dit hoekom ons verkies om wegneem kos eerder “kitskos” te noem en nie “goeie kos” nie?). Nou ja, ek weet van een dame wat lank terug al probeer het om iets soos die eerste Christelike Michelin-sjef te word. Ek praat van besige Marta daar in Lukas 10:38-42.

Toe Jesus saam met sy dissipels by Marta en haar suster Maria oorgebly het, was sy dadelik reg om die ete van die jaar te kook. Ek meen, hoeveel mense in die geskiedenis kan sê hulle het vir Jesus gekook? Of dat hulle by geleentheid sy persoonlike sjef was? Dit moet al die regmerkies op die “celebrity-lys” kry. Dit moet jou naam in die ewigheid ingraveer. Geen wonder nie dat Maria rondgehardloop het terwyl Jesus in die eetkamer met mense oor God se koninkryk gepraat het. Skielik het Marta agtergekom Maria los haar alleen in die kombuis. Sy het aan Jesus se voete gesit. Marta was ontsteld. “Here, pla dit U nie dat Maria my nie help nie?” wou sy by Hom weet. Miskien was daardie gevleuelde woorde van die Prediker dat daar ’n tyd vir alles is, in haar agterkop. Nou was dit haar en haar suster se tyd vir kosmaak, nie vir sit aan Jesus se voete nie. Maar Jesus lees die tyd anders as Marta … en as baie van ons! Vir Hom is dit altyd tyd vir rus aan sy voete. Hy is die eintlike meester-sjef wat hemelse kos opdien. Jesus se kos is sy woorde wat vir altyd lewe gee, soos wat Petrus in Johannes 6:68 bely. Jesus is die ware brood uit die hemel. Hy is lewende water. Gelukkig het Maria dit besef en dadelik by die eintlike Meester gaan sit. Dit is die beste deel. Daar leer jy KOOK vir Jesus. Nou ja, daar’s nog plek oop om by Jesus te kom leer KOOK.


bottom of page