top of page
deur Milanie Vosloo

Plant vandag ‘n appelboom


Die een wat reg leef, moet so aanhou en die een wat net vir God wil leef, moet so bly leef. Openbaring 22:11

Martin Luther het gesê as Christus môre kom, sal ek vandag nog ‘n appelboom plant. Hiermee se Martin dat afwagting op die wederkoms nie ‘n passiewe daad is nie, maar dat dit iets is wat aktiwiteit vereis. Dit vra van ons as sy kinders om te bly dóén.

Gelowiges kan anders na die wêreld en die wederkoms kyk. Vir ons is Christus se koms nie die begin van die einde nie, maar eerder die einde van die begin. En die begin van iets nuuts: van ‘n nuwe dag; ‘n nuwe manier van leef; ‘n nuwe tyd van ewigheid.

Juis omdat ons met verwagting kan uitsien na ons Here se weer koms, kan ons elke dag ten volle leef. Ons kan in ons werk elke dag ons appelbome met passie plant, in ons verhoudings elke dag liefde plant en in ons eie harte elke dag ‘n stuk vrede plant: vrede in die wete dat ons Verlosser se hemelvaart nie die einde was nie, maar dat Hy gegaan het om vir ons ‘n nuwe begin te maak. Hy het ons vooruit gegaan sodat ons elke dag van voor af kan lééf.

Gaan plant vandag jou appelbome deur alles wat jy doen, met passie en toegewydheid aan te pak, met vreugde te deurleef en met verwagting deur te voer.

Here, mag ek, tot U kom, voluit leef. Mag ek aanhou om die liefde te leef.


bottom of page