Onverskrokke dogtertjie versus 2018
top of page

Onverskrokke dogtertjie versus 2018


Die jaar van Onse Here 2018 is met ʼn groot lawaai besig om uit die blokke los te kom. Dreigend; gereed om te storm.

Suid-Afrika word daagliks deur toenemend-afgryslike geweldsmisdade geskok. President Zuma hang skeef op sy troon, maar bly klou vir al wat hy werd is. Dié wat ryk is, word ryker en die armes vergaan van ellende. Steinhoff en MultiChoice is in die moeilikheid gedompel en menige “held” val. Visehoofregter Raymond Zondo moet hare op sy tande hê – die staatskaping-skandaal is ingewikkeld en simbolies van verrotting. Om maar enkele brandpunte te noem. Behalwe hiervoor word elkeen ook met persoonlike krisisse gekonfronteer.

Lyk 2018 rooskleurig? Dalk vir enkele optimiste. Hier aan die Suidpunt van Afrika lyk die toekoms bra onseker en onbekend, selfs donker.

Dit herinner aan die Minotaurus wat woedend in die doolhof wag vir enigeen wat braaf (of dalk dom) genoeg is om te kíés om die onbekende donkerte binne te gaan. Maar ons het nie, soos die helde van ouds, ʼn keuse nie. Ons is reeds in die doolhof en die Minotaurus skuil om die eerste draai.

In Bowling Green in die finansiële distrik van New York City dreig ʼn 3,4 meter hoë brons bul. Die bul se kop hang laag, neusgate wyd oopgerek, gereed om te storm.

Sedert Maart 2017 wag Fearless Girl die bul in, kompleet met handjies in die sye en bene wyd geplant, ʼn parmantige poniestert en ʼn vreeslose uitdrukking op haar gesiggie. En skielik blyk dit dat sy wel die bul in sy spore gestuit het: Hy lyk nie meer hééltemal so vreesaanjaend nie, so al asof hy in die proses is om om te draai en weg te hol.

Ja, 2018 is ʼn massiewe stormende bul. Dit voel of die chaos daagliks toeneem en dit is moeilik om sin te maak van die wanordelike samelewing.

Al kan ons nie kies of ons in 2018 wil lewe al dan nie, kan ons tog kies hóé ons reageer.

En ek kies om alles wat die jaar bring soos die kleine New Yorkse dogtertjie in te wag. Nog beter: Met God aan my sy wórd ek Fearless Girl.

Die opdrag om nie bang en beangs te wees nie kom legio male in die Bybel voor. As dít nie genoeg gerusstelling bied nie, dan is daar nie gerusstelling in die kosmos te vinde nie.

Dalk sal ek in 2018 ʼn punt daarvan maak om elke keer as angs my op my knieë dwing Psalm 91 te lees:

“Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag nie… Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ʼn klip sal stamp nie. Jy sal oor leeus en adders loop, leeus en slange sal jy dood trap.”


bottom of page