top of page
  • deur Marius Nel

On the Christian life [resensie]


John Calvin. On the Christian life. Whitaker House. 2016

Johannes Calvijn wat van 1509 tot 1564 geleef het, oefen ‘n groot invloed uit op hoe Christene dink en optree. Sy teologie het veral onder Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners bepaal hoe ons oor God en sy verhouding met mense dink. En sy standpunte oor die verbond en uitverkiesing veroorsaak dat talle Christene die Bybel deur die lens van dié temas lees.

Dié boekie kom uit Calvijn se katkisasieboek vir jong Christene, die Institusies van die Christelike godsdiens, ‘n klassieke werk wat reeds vir vier eeue Christene beïnvloed. Calvijn het nie sy boek vir teoloë geskryf nie maar om Christene in staat te stel om te verstaan waaroor hulle geloof gaan. En in dié boek vind jy ook dat dit oor onderwerpe handel en in taal aangebied word wat vir elke mens verstaanbaar is.

In sy groot werk het Calvijn geskryf oor vier temas: oor God as Skepper, oor God as Redder van die mens in Christus, oor hoe ‘n mens die genade van Christus deelagtig kan word en watter seëninge dit vir jou inhou, en watter maniere God gebruik om die mens by Christus uit te bring en in Christus te hou. Die boek handel oor die Wet, die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Ons Vadergebed, die sakramente en Christelike vryheid wat soms saamgevat word as TULIP of total depravity, unconditional election, limited atonement, irresistible grace en perseverance of the saints.

In dié boekie kry jy ‘n bespreking van vyf temas: waaruit bestaan die lewe van ‘n Christen, waaruit bestaan selfverloëning, wat beteken dit om die kruis op te neem, hoe kan ‘n mens oor die lewe hierná peins en in watter verhouding moet ons met die huidige lewe en wêreld met sy gerief leef? In die proses kom talle onderwerpe aan die bod wat belangrik vir ons as Christene is, soos hoekom ons strewe om heilig te lewe, wat ware van valse Christene onderskei, waarvoor ons lewe en hoekom dit ons lewe die moeite werd maak, hoekom nugterheid, regverdigheid en toewyding so belangrik in ‘n kind van die Here se lewe is, hoekom ons onsself tweede moet stel en ons medemens eerste, wat die kruis van Christus behels, ensomeer.

Eintlik kan ek jou slegs ‘n voorsmakie gee van wat in dié boekie aangebied word. En wanneer jy dit geniet het, gaan jy hopelik tyd maak om die Institusies van voor tot agter te lees. Dit is deur-en-deur die moeite werd en die boek sal jou van begin tot end boei. Want dit is gebaseer op die Bybel en poog om sistematies te verduidelik wat die onderskeie Bybelse skrywers oor verskillende onderwerpe gesê het.

Die boekie is by CUM beskikbaar en kan ook elektronies bestel word by www.cum.co.za.


bottom of page