‘n Bekertjie kou water
top of page

‘n Bekertjie koue water


‘n Hele paar jaar gelede was daar ‘n boemelaar en sy vrou wat een keer per week by ons huis gestop het. Hulle het dan by die stoeptafel gesit en hulle broodjie en tee geëet en my van die straatnuus vertel. Die laaste keer wat ek hulle gesien het vra Lena toe vir my die volgende: ”Mevrou, ek is vreeslik lus vir ‘n kaasbroodjie. Ek kan nie meer die smaak van kaas onthou nie.”

My hart wou breek. Ek is kombuis toe en het die tafel gedek. Ek het kaas gerasper, konfyt uitgehaal en botter op die tafel gesit. Ek het hulle ingenooi om by die tafel te sit. Die elke dag kos, het vir hulle na ‘n feesmaal gelyk. Hulle kon nie genoeg kry nie. Hulle is later daar weg met kaasbroodjies vir die pad. Ek het hulle daarna nooit weer gesien nie!

Na hierdie insident het ek baie gedink oor die groot vreugde van ‘n kaasbroodjie. Ons teks praat van ‘n beker koue water aan ‘n geringe person. Daardie dag was dit ‘n kaasbroodjie. Ek dink baie keer met groot vreugde en dankbaarheid aan ‘n kaasbroodjie terug wat ek kon uitdeel en aan die waarde van gee wat dit my geleer het. Die vreugde en die heerlikheid van kaas sal ek nooit vergeet nie.

Meeste van die tyd is ‘n bottle koeldrank of ‘n geldjie vir die karwag heeltemal genoeg. Die vreugde daarvan beleef ons gewoonlik net so in die verbygaan en besef baie keer nie van die genade wat ons uitdeel nie. Dit is ook goed so want ons as kinders van die Here mag nie hierdie dinge doen om gesien te word nie. Ons moet hierdie bekertjies kou water uitdeel in die omgang van die lewe sonder om erkenning te verwag.

Om elke dag soos ‘n Christen te lewe is nie eenvoudig nie. Jy kan met klein dingetjies begin. Ontvang mense in jou huis met vreugde. Maak elke koppie tee of koffie asof dit spesiaal is. As ons hierdie dinge doen sê die teks vir ons, ons ontvang die Here self.

Gebed

Here, maak my asseblief vandag bewus van mense wat koue water nodig het. Laat my U water uitdeel met vreugde. Dankie vir alles wat U vir my so mildelik voorsien.


bottom of page