Tyd loop. Sorg dat jy saamloop
top of page

Tyd loop. Sorg dat jy saamloop


Ek vermoed een van die mees gebruikte uitdrukkings gedurende hierdie tyd van die jaar is dat tyd vlieg. Hier teen die laaste week van die jaar is almal bewus van die spoed van tyd. Die jaar se uurglas is amper leeg. Dit voel soos gister toe die nuwejaar aangebreek het en nou is 2017 alweer in die oujaar-seisoen. Praat van vinnig! Een van die groot uitdagings is om egter saam met die tyd te beweeg, ook wanneer 2018 op ons elkeen se voorstoep opdaag. Bedoelende, ons moenie uit pas raak met die tyd nie. Soos die stam van Issaskar in 1 Kronieke 12:32 moet ons goeie tydlesers wees. Ons moet weet wat om te doen en wanneer om dit ook te doen. Ons moet die Here se wysheid in 2018 indra, nie net ’n paar tydelike nuwejaarswense nie. Ons moet leer om die tyd uit te koop, of dit nou die laaste dae van 2017 is, of die nuwe jaar s’n, soos wat Paulus skryf in Efesiërs 5:16. Dit vra om Spreuke se soort wysheid om nie saam met elke nuwe stroom meegesleur te word wat rondom ons vloei nie. Dit vra om dapperheid om nie deur vrees vir die onbekende oorspoel te word nie. Maar dit vra veral van ons om ons hand styf in die Here se hand te hou in 2018.


bottom of page