top of page
  • deur Marius Nel

Going deep & wide [resensie]


Andy Stanley. Going deep & wide: A companion guide for churches and leaders. Zondervan. 2017

Andy Stanley se Deep & wide het ‘n klassieke werk in die kerk geword. Hierin het hy gemeentes geleer wat om te doen sodat die gemeente onweerstaanbaar vir alle groepe mense word. Mense besoek die gemeente en ná die eerste besoek het hulle hul gedagte opgemaak of hulle by die gemeente ‘hoort’ of nie. Het hulle tuis gevoel? Het die kultuur en etos van die erediens hulle aangespreek? Wat moet jy doen om sensitief hiervoor te word, en om besoekers (en nie-Christene) tuis te laat voel?

As jou doel is om mense in ‘n verhouding met Jesus te bring waar hulle groei deur ‘n onweerstaanbare gemeente te skep wat mense aanmoedig en toerus om intimiteit met God na te jaag, ‘n gemeenskap waar mense mekaar dra en dié buite die gemeente beïnvloed, is dié gids vir jou.

Stanley is oortuig dat God vyf dinge gebruik as katalisators wat geloof by mense laat groei: praktiese lering, privaat dissiplines, persoonlike bediening, verhoudings wat deur God gereël is en omstandighede wat gepas gebeur.

In dié boek wat bedoel is om elke deelnemers te laat saamdink en saamwerk, gaan dit om verskillende temas. Hy vra: wat is die geloof van ons geslag mense werd? Wat is onweerstaanbaar vir mense vandag? Wat sien mense raak wat geen verhouding met die kerk het nie? Wat hoor hierdie mense? En wat ervaar hulle?

Hy wil eintlik by jou weet: wat is so belangrik in jou kerk dat alles eintlik daarom draai? Is dit kerkmense of mense wat nog nie by God uitgekom het nie? Gaan dit om mense wat reeds deur God gevind is? Of is jy besorg oor mense wat besig is om verlore te gaan?

Sien jy kans om kerk te wees slegs vir Christene? Om die res van jou lewe in hulle behoeftes te voldoen? Dit is die eredienste wat nie-Christene ontuis laat voel met rituele en taal wat vreemd klink en lyk.

Of wil jy nuwe dinge probeer met die doel om jou kerk ‘n aantrekkingskrag vir sondaars te maak? Wil jy wegbeweeg van die bekende en iets nuuts doen? Wil jy deel van ‘n span wees wat uitreik na mense wat nie die Here ken nie?

Indien jou hart vir die laaste groep vrae klop, is dié werkboek vir jou. Met heelwat vrae en nuttige aanhangsels sal dit jou stimuleer om nuut te dink en anders te doen.


bottom of page