Leier Nuusbrief Desember deel 2
top of page

Leier Nuusbrief Desember deel 2


Wanneer ‘n leier twyfel

Alle leiers twyfel soms. As Christenleiers wil ons geloof hê om berge te versit, maar ons geloof is dikwels te klein. Hoekom gebeur dit? Van die algemeenste redes om te twyfel is:

  • Jy het gebid, maar nie die antwoord gekry waarop jy gehoop het nie;

  • Jy het hard gewerk, maar die idee/program het nie gewerk nie;

  • Mense het jou in die steek gelaat of jou seergemaak;

  • ‘n Spanlid het sy rug op jou gekeer;

  • Jy het dit nog nooit vantevore gedoen nie; en

  • Jy probeer te veel op jou eie doen.

Twyfel kom gewoonlik in een van drie kategorieë:

1. Persoonlike twyfel

Jy is onseker van jouself jy dink te veel oor sekere dinge wat verdere energie verbrand. Dit laat jou wonder oor wat mense van jou as ‘n persoon dink. Korttermyn persoonlike twyfel is algemeen. Langtermyn persoonlike twyfel is ongesond. Praat daaroor met ‘n goeie vriend of jou mentor.

2. Twyfel oor leierskap

As leier is jy onseker wat om te doen. Alle leiers ondervind dit met tye. Nou begin jy twyfel of jy die regte persoon is om te lei. Die sleutel is om nie alles binne jouself te hou nie. Moenie probeer om alles alleen te doen nie - trots kan tot jou val lei.

Kry goeie raad. Vergelyk die gedagtes van jou raadgewer met jou eie gedagtes. Jy sal inligting kry wat jou vertroue gee of jy gaan iets leer. Jou ondervinding verdiep en jy word ‘n beter leier.

3. Twyfel oor jou geloof

Alle leiers wonder soms; “Waar is God in my stryd?” Dit is nie twyfel oor jou verlossing of oor die bestaan van God nie. Dit is meer twyfel oor God se onmiddellike teenwoordigheid of dit is ‘’n poging om God se wil in ‘’n saak te verstaan

“God is too good to be unkind. He is too wise to be confused. If I cannot trace His hand, I can always trust His heart.” –C.H. Spurgeon

Ek mag nie altyd God se plan ken of verstaan nie, maar ek vertrou op sy hart – ek vertrou sy liefde vir die kerk en vir my. Ek kan in daardie waarheid rus en Hom vertrou tot ek duidelikheid kry.

Prioriteite vir leiers

Om ‘n leier te wees, is uitputtend. Doeltreffende leierskap gaan nie oor al die verantwoordelikhede en take wat ons het nie, maar eerder hoe goed ons die prosesse wat nodig is om dit te doen, ontwikkel. Basies is leierskap die leiding van mense. Dit beteken ons moet prioriteite ontwikkel. Die doel is om so doeltreffend as moontlik te wees met ons tyd en energie. Hier is vyf moontlike prioriteite:

1. Kry ‘n span van hoë kwaliteit bymekaar en bemagtig hulle om uit te munt.

Kwaliteit soek kwaliteit Jou eerste prioriteit is om so ‘n span bymekaar te kry en hulle te verseker dat jy in hulle glo. Onseker leiers omring hulle met mense met minder talente, vaardighede, kreatiwiteit, ens.

Sydney Finkelstein (Superbosses) sê, “If you look around the room and you’re the smartest person in the room, you’re in the wrong room.”

2. Delegering is krities vir die sukses en gesondheid van jou span

As jy talentvolle en bekwame mense in jou span het, kan jy met vertroue verantwoordelikhede aan hulle delegeer. Dit stel jou vry om te fokus op ander prioriteitsdoelwitte. Doen wat jy alleen kan doen. As iemand anders iets doeltreffend kan doen, delegeer die verantwoordelikheid aan hom. Die uiteinde is dat die leier sit met ‘n gefokusde lys van kernaktiwiteite wat sentraal is vir jou doeltreffende leierskap.

Al kan jy dinge vinniger as iemand anders doen, is dit beter om daardie tyd in ander verantwoordelikhede te belê. Rentmeesterskap van ons hulpbronne in diens van God se koninkryk is vir God belangrik. Delegering is ‘n belangrike instrument in die onderrig van jou spanlede, sodat hulle in leierskap en ander gawes kan groei. Die leier wat mikrobestuur doen, ontneem sy spanlede van geleenthede. Deur alle take self te probeer doen impliseer hy dat ander sal misluk as hulle dit moet doen. Met verloop van tyd mergel dit sy span uit. Wanneer hy dan op hulle moet vertrou, het hulle nie die nodige kennis en vaardighede om die las te dra nie.

3. Streef doeltreffendheid na

Organisasies het ook die regte sisteme nodig om doeltreffend te wees. Sisteme stel elke spanlid in staat om te weet wat van hom verwag word, dit help hulle om te verstaan hoe dit wat hulle doen in die breër doelwitte van die span inpas. Swak sisteme gebeur as jy te beperkend of te los is. Leierskap moet krities dink en buigsaam wees om hulle sisteme te verfyn as hulle nie doeltreffend is nie.

4. Leiers moet doeltreffendheid nastreef of hulle gaan uitbrand

Ek verstaan dat mense sê dat die nastreef van doeltreffendheid teen die evangelie is. Die evangelie sê dat ons moet dien, Jesus het immers sy dissipels se voete gewas. Moet ons nie dieselfde doen nie?

Sekulêre organisasies streef doeltreffendheid na ten opsigte van verkope en profyt. Kerke moet doeltreffendheid nastreef om hulle leiers te beskerm. Een van die groot probleme waarmee gemeentes worstel op die oomblik is uitbranding van leiers, hulle voel die eise van bediening is meer as wat hulle kan hanteer. Leiers moet gedurig besef dat hulle tyd beperk is.

5. Pastorale geleenthede is ingelyfde noodsaaklikhede

Leiers moet steeds op grondvlak betrokke wees by bediening. Hoekom?

  • So bly leiers nederig. Die neiging vir isolasie en sukses wat ons gewoontes sleg beïnvloed is ‘n werklikheid. Daar is baie meer voorbeelde van belangrike leiers wat hoogmoedig optree as dié wat nederig optree. Hierdie gewilligheid om te dien herinner ons aan Jesus se eie model van dienaar-leierskap.

  • Dit voed daardie aanvanklike impuls wat jou in die eerste plek in die bediening ingetrek het. Meeste kerkleiers begin met ‘n roeping na die bediening. Deur ‘n kombinasie van hulle leierskapsvaardighede en God se seën neem hulle verantwoordelikhede die plek van hulle oorspronklike roeping oor.

Hoe verander ek van bestuur na leiding van die gemeente?

If you want to know the temperature of your church, put the thermometer in your mouth. (Charles McKay)

Baie mense het al gesê dat alles op leierskap berus. Volgens Rick Warren geld dit ook vir die bediening. Jy hoef nie ‘n charismatiese leier (in die emosionele sin) te wees nie. Persoonlikheid het baie min met dinamiese leierskap te doen.

Dit is nie die charisma van die leier wat belangrik is nie, maar sy visie. Die belangrikste verantwoordelikheid van die leier is om voortdurend en duidelik die visie van jou besondere bediening te kommunikeer. Jy moet voortdurend die vraag vra: Hoekom is ons hier? As jy nie die vraag kan beantwoord nie, kan jy nie lei nie.

Daar is ‘n voortdurende verskuiwing van lidmate van die een gemeente na die ander. Baie bring kulturele bagasie saam met hulle en sommige verwag dat die nuwe gemeente net soos die oue sal wees. Wat belangrik is, is die visie van die geestelike leier van die gemeente. Hierdie visie moet jy voortdurend en duidelik kommunikeer aan almal wat by die deur instap. Jy moet dit duidelik stel wat julle doen en hoekom julle dit doen. Niemand mag onbewus van die visie wees nie. Kommunikeer die visie voortdurend op sosiale media, die gemeente se webblad. Almal moet dit duidelik kan sien.

Visie is die verskil tussen bestuur en leierskap. Bestuur bestaan hoofsaaklik uit drie dinge; analise, beplanning en probleemoplossing. Leierskap bestaan uit visie en waardes en die kommunikasie daarvan. As jy nie God se doel as leier beklemtoon nie, wie gaan dit doen?

Meeste gemeentes is oor-bestuur en onder-gelei. Gemeentes het beide bestuur en leierskap nodig. As jy net bestuur het, kry jy dikwels paralise as gevolg van analise. Bestuur sonder leierskap beteken dat jy gedurig besig is om te analiseer en doen selde iets. Sonder bestuurders in die kerk neem die gemeente dikwels besluite sonder enige rigting.

Sommige mens het drome, maar nie ‘n visie nie. ‘n Visie is ‘’n pragmatiese droom. Baie mense kan nie hulle drome in ‘n konkrete vorm oorsit nie. Hulle kan niks daaromtrent doen nie. ‘n Visie is ‘’n droom wat geïmplementeer kan word. Niks word dinamies voordat dit nie eers spesifiek word nie.

As jy onseker is waar God wil hê die gemeente moet gaan, sonder jou af en spandeer tyd met Hom totdat Hy dit vir jou duidelik maak.


bottom of page