Kom kyk gou wat is in Jesus se hand
top of page

Kom kyk gou wat is in Jesus se hand


Terwyl die dissipels besig was om weg te kruip agter geslote deure op daardie Sondagaand direk na Jesus se dood, daag Hy ongenooid by hulle op. So vertel Johannes 20 vir ons. Jesus daag egter op met ‘n oop hand, ‘n hand vol vrede. Soos wat dit die Joodse gebruik in daardie tyd was, het Hy waarskynlik sy regterhand in die lug opgesteek terwyl Hy sy dissipels groet met die woorde: “Vrede vir julle!”

Dis egter nie net Jesus se vredesgroet met sy oop hand wat so aangrypend is nie. Dit ook, maar as jy daardie eerste Sondagaand na sy opstanding na sy hand kyk, dan sien jy wonde daarin! Die diep wonde wat die kruis se spykers agtergelaat het roep uit dat die kruis die peperduur prys is wat Christus moes betaal om ons onthalwe. Binne-in sy hand is daar diep wonde, wonde wat jou en my sondes Hom aangedoen het. Tog is dit juis hierdie wonde wat sê alles is afbetaal. Sy wonde het genesing gebring. Sy oop hande met die spykermerke daarin is die bewys dat Hyself die beker van oordeel wat ons moes drink enduit leeg gedrink het. Hy het die pad geloop tot heel aan die einde, dwarsdeur die dood en anderkant uit! Daarom dat die grootste geskenk in hierdie Kerstyd te vind is in die hand van Jesus. Kyk weer mooi, dan sien jy weer daardie spykermerke raak. Dis om jou ontwil daar! Sien opnuut hier in Kersfeestyd Jesus se oop hand, sy hand vol genade en liefde. Dis hierdie einste hand wat Jesus nou nog oophou na jou toe en na die wêreld toe. Tussen ons almal kom staan Jesus nogmaals hier in 2017 met ‘n oop hand. Sy vuiste is glad nie gebal nie. Hy het geen rottangs of gewere in sy hand nie. Uit Christus se oop hand vloei hemelse vrede. Ervaar dit en leef!


bottom of page