top of page

Ons Here lééf!


“Moenie weghardloop nie,” sê die man. Ek weet julle is op soek na Jesus van Nasaret. Hy is nie meer hier nie, want Hy het uit die dood lewendig geword." Markus 16:6a

Die verbystering en rou smart oor hul Rabbi se kruisdood het ’n donker skadu oor die vroue se harte gegooi. Hulle sou Hom so graag weer wou sien, aan Hom raak, sy liefde voel. Stadig en onseker loop hulle na die graf, loer versigtig by die oop gat in die muur ... en dan die skok: Hul Meester se liggaam is wég! Verslaentheid oorweldig hulle hartseer …

En dan praat die Engel in die graf: “ … Hy (die Een wat julle liefhet) is nie meer hier nie, want Hy het uit die dood lewendig geword.” En so verander alles: die wêreldgeskiedenis, die manier hoe ons die ewigheid gaan deurbring en ons as Christene se hoop. Jesus staan op en ruim so-so die laaste twyfel oor sy Goddelikheid weg. Meer as dit gee Hy vir ons die wonderlike troos dat dood ook nie vir ons ’n verskrikking hoef te wees nie. Omdat Hy anderkant die lewe hier, op ons wag.

Kom ons kniel vandag opnuut voor die leë graf en onthou dat daar na die Vrydag van die kruis ‘n wonderlike oorwinnings-Sondag was! Kom loof vandag ons Here wat dood was maar nou lééf! Wat vir óns leef!

Oorwinnaar van die dood, hoe wonderlik die wete dat U meer as net leef ... dat U vir mý leef.


bottom of page