Uniondale se spook
top of page

Uniondale se spook


Ons gesels vanaand by die etenstafel oor die Uniondale se spook. My dogtertjie hou van lees, dankie tog, en ek belowe om vir haar hierdie verhaal op te spoor. Die gesprek het eindelik begin by ons vakansieplanne. Ons gaan soos gewoonlik hierdie jaar Sedgefield toe vir die Desember vakansie. Ek moet by die see uitkom om hierdie jaar af te spoel. Dit was een van daardie jare, maar God was weereens genadig en het my kom genees van ‘n siekbed.

So volgens ons beplanning moet ons verby Uniondale reis en ek vertel toe vir haar die verhaal van die bruidspook van Uniondale. Baie mense glo eindelik in spoke, maar daar is die wat nie glo nie. Vir hulle sê ek altyd… gaan Karoo toe in die nag, jy sal my weer sê. Snaaks ook genoeg, die meeste spoke wat ek teëgekom het, was naby of in die kerk. Ons het mos in die pastorie langs die kerk gewoon en my pa het die snaakse neiging gehad om my baie laat saans te gaan stuur vir ‘n sigaret by die koster want syne was op. Dan moet ek op die kerkgrond loop 22h00 die aand en voel soms hoe ek aangegluur word deur oë in die donker.

Gepraat van spoke of geeste… ek deel met julle iets baie persoonlik. En dalk kan dit wees my verbeelding of psige of diep verlange, maar ek het twee maal my pa gesien of sy gees gesien. Die eerste keer was die oggend Desember 1994 toe ek op pad is om my matriekuitslae te gaan kyk by die skool. Toe ek omdraai op my bed sien ek iemand by die gordyn staan. En vir daardie een oomblik weet ek dit is hy.

Ek glo…en dis wat ek glo… dat hy daardie oomblik kom inloer het net om te sê voorspoed ‘Ashemannetjie’. Ek het altyd hierdie bynaam gehaat en was altyd skaam voor my vriende want as hulle kom kuier het, dan het hy my altyd so geroep om te kom tee maak.

Vandag, snaaks genoeg, noem ek my seun ook ‘mannetjiepannetjie’. Ek weet nou wat dit beteken; ek is lief vir jou.


bottom of page