Leier Nuusbrief Desember deel 1
top of page

Leier Nuusbrief Desember deel 1


Voordele van die evangelie

Die evangelie bied baie meer as tydelike voordele soos goud en silwer. Dit bied ‘n splinternuwe uitsig op God, en insig en perspektief op God se wil vir ons. Dit bied hoop, vreugde en herstel.

Helaas, as die kerk egter vasgevang word in wêreldse waardes, vervaag hierdie boodskap van hoop ook baie gou. Tomas van Aquino vertel van een van sy besoeke aan Pous Innocentius II. Met Tomas se aankoms was die pous besig om ‘n groot klomp geld van die kerk te tel. Hy sê toe vir Tomas: “Gelukkig hoef die kerk vandag nie meer te sê: Silwer en goud het ons nie.” Hierop het Tomas vinnig geantwoord: “Ongelukkig kan ons daarom ook nie meer sê: ‘Staan op en loop’ nie” Hy verwys hier na die genesing van die verlamde man soos ons dit lees in Handelinge 3:1 -11.

Assimilasie in ons gemeentes

Is die proses van assimilasie in die gemeente doeltreffend? Daar is geen model wat vir alle gemeentes pas nie.

1. Die geen-plan benadering

Dit is gevaarlik. Mense wat vir die eerste keer ‘n erediens bywoon, kan van vergeet word. Wie is verantwoordelik vir die nuwe persoon? Die kerk deur die eeue het bekend gestaan as die moeder. Dit is nie omdat om eredienste by te woon, van jou ‘n Christen maak nie. Die kerk is die plek waar mense opgelei word om God te ken. Daar word na hulle gekyk en hulle word op ‘n verantwoordelike manier versorg.

2. Die mini-plan benadering

Jy maak nou die name van mense wat eredienste vir die eerste keer bywoon bymekaar Mense moet kaartjies voltooi en iemand mag hulle dalk besoek.

3. Die volle-plan benadering

Hoe kry jy die naam op die kaartjies by iemand wat iets daaromtrent gaan doen. Dit moet elke keer werk. Dit hoef nie ‘n ingewikkelde rekenaarprogram te wees nie. Die taak moet net aan iemand toegewys word. As jy van ‘n mini-plan na ‘n volle-plan beweeg het jy ‘n bestemming. Hierdie bestemming is ‘n lewe van heiligmaking en die vrug is om almal na Jesus te lei. Hierdie is ‘n droom wat net moontlik is met God se volle betrokkenheid.

Hierdie volle-plan benadering behels gewoonlik dat alle nuwelinge ten volle in ‘n groep betrokke is. Hierdie groep kan hulle na die volgende trap van groei na volwassenheid in Christus neem. Watter soort groep praat ons van? Dink aan leer van ‘n lewe in Christus saam met ‘n groep soliede Christene. Ed Stetzer beskryf die benadering in drie woorde: collect (kry al hulle inligting), connect (verbind hulle aan iemand in die gemeente) en convene ( kry hulle in groepe wat hulle sal help om in Christus te groei).

Assimilasie is ‘n aflosresies waar hardlopers vir mekaar die stokkie aangee. Tipies is dit die aangee van die stokkie en nie die hardloop self wat die probleme skep nie. Leiers moet toesien dat die stokkie veilig aangegee word.

Die kerk is die Liggaam van Christus en saam moet ons verantwoordelikheid vir alle nuwelinge aanvaar. Help ons mense om met ander mense te verbind as hulle nuut by die gemeente aankom?

Die 4 C’s van Bybelse leierskap

Daar word baie oor leiers en leierskap geskryf. Maar hoe evalueer ons leiers? Hoe kan ons kerkleiers help om in hulle leierskap te groei. Kerke evalueer leiers op grond van hulle bevoegdheid en resultate. Kan hy preek? Groei die kerk? Wat sê die Skrif self oor kerkleierskap? Volgens die Skrif is daar belangriker dinge as bevoegdheid en resultate om te evalueer.

1. Karakter (character)

Die Bybel beklemtoon karakter as die belangrikste kwalifikasie vir ‘n leier. (1 Timoteus 3:1-14 EN Titus 1:5 -15). ‘n Kerkleier moet onberispelik wees. Paulus beklemtoon drie gebiede waarin ‘’n leier onberispelik moet wees

  • In sy karakter. Dit word nie verwag dat hy volmaak moet wees nie, maar hy moet heiligheid najaag. Hy moet nugter, verstandig, beskaaf gasvry en bekwaam om te onderrig wees; hy moenie aan drank verslaaf of ‘’n rusiemaker wees nie, maar inskiklik, vredeliewend en nie geldgierig nie, wees (1 Timoteus 3:2-3).

  • In sy gesinslewe. Hy moet sy eie huisgesin goed kan beheer en in alle opsigte op waardige wyse gesag oor sy kinders kan uitoefen (1 Timoteus 3:4-5).

  • In sy openbare lewe. Ook by die mense buite die gemeente moet hy as ‘’n goeie man bekend staan (1 Timoteus 3:7).

2. Oortuiging (Conviction)

In sy oortuiging. Hulle moet in alle opregtheid aan die geopenbaarde waarheid van die geloof vashou (1 Timoteus 3:9). Hy moet ‘n man van Bybelse oortuigings wees. Hy moet ‘n volwasse gelowige wees. Hy moet vashou aan die betroubare woord waarin hy onderrig is. Dan sal hy in staat wees om ander met gesonde leer aan te moedig en die argument van teenstanders te weerlê (Titus 1:9).

3. Versorging (Care)

Die woord pastor dui op “voeding, beskerming en versorging” van ‘n kudde”. Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is goed op. Hou toesig oor hulle, nie uit dwang nie, maar gewillig soos God dit verwag; nie om eie gewin nie, maar uit toegewydheid; ook nie deur baas te speel oor dié wat God aan julle sorg toevertrou het nie, maar deur ‘n voorbeeld vir die kudde te wees (1 Petrus 5:2-4). Hoe weet ons of iemand die kudde goed oppas? Hulle vergader saam met die kudde; hulle gee om deur liefdesdade vir ander lidmate te doen (gebed, besoeke, gasvryheid, ens.); hulle sorg vir ander gelowiges deur dissipelmakende verhoudings, Hulle sorg vir ongelowiges deur die evangelie gereeld aan hulle te verkondig.

4. Bekwaam (Competent).

Die Bybel beklemtoon karakter bo bekwaamheid, maar die leier moet bekwaam om te onderrig wees (1 Timoteus 3:2). Hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys

Die volgende formule kan gebruik word as jy kandidate vir leierskapsposte oorweeg:

Karakter + oortuiging +vaardigheid = geloofwaardigheid

Die Skrif is duidelik: ons moet mense wat onberispelik is oorweeg en wat die kerk genoeg liefhet om die kudde te versorg en te beskerm.

Heilige Koeie

Heilige koeie is daardie geskrewe of meer dikwels geïmpliseerde “reëls en waarhede” oor hoe dinge in elke organisasie gebeur. Hulle word nie bevraagteken of uitgedaag nie en selfs nie eers genoem nie. Ook in die kerk is daar sekere heilige koeie. Ons moet hulle probeer uitskakel. Kom ons kyk na ‘n paar van hulle:

1. Ware bediening gebeur net in die kerk.

Natuurlik gebeur bediening in die kerk, maar die groot bedieningsmoontlikhede is buite die kerk – op die markplein. Onthou vandag woon net 20% van mense eredienste by.

2. As jy God se werk wil doen, moet jy in voltydse bediening gaan.

Hierdie siening het al baie gelowiges ontmoedig. Wat ons op die markplein doen, kan ook koninkrykswerk wees. Ware bediening is nie beperk vir voltydse bedienaars nie.

3. Die ware geloofshelde is leraars, reisende evangeliste en sendelinge.

Natuurlik is hierdie mense helde, maar hulle is beslis nie die enigste helde nie. Kyk na die Bybel en ons sien baie van die helde was gelowiges wat in die markplein gewerk het – Abraham (boer), Moses (skaapwagter/leier), Josua en Kaleb (krygers), Josef (administrasie), Daniël (regeringsadviseur), Dawid (kryger/koning) Paulus (tentmaker), en Petrus (visserman).

4. Die beste manier om die evangelie te versprei is om mense in die kerk te kry.

Jesus het nie die hele dag in die sinagoge gesit en vir sy dissipels gesê: “Doen alles in julle vermoë om die mense hier te kry nie.” Jesus het, volgens die evangelies, in die markplein uitgegaan – partytjies, berghange, dorpe, ens - om die goeie nuus van verlossing te verkondig.

5. Kerkplanting is die beste manier om die koninkryk te transformeer.

Jesus het nie gesê; “Gaan uit in die wêreld en plant kerke nie.” Die vinnigste en kragtigste manier om ‘n kultuur te transformeer en die evangelie te verkondig, is deur die markplein.

6. Moenie ons markplein gelowiges vergeet by ons jaarlikse dankdiens nie.

In tradisionele kerke is die markplein gelowiges die vergete gelowiges – totdat die kerk meer fondse vir die volgende jaar se begroting nodig het. Dan is hulle skielik belangrik.

Nuwe transformasie-waarhede

Jare gelede het die bestuurskonsultant Robert Kriegel ‘n interessante boek geskryf: Sacred Cows make the best burgers. In die boek stel hy hierdie heilige koeie bloot en elimineer hulle.

.

Hier is ses waarhede.

  1. Die markplein is die primêre plek vir gelowiges om te werk.

  2. Markplein gelowiges is net soos voltydse bedienaars gesalf – nie minder nie.

  3. God se helde is hulle wat sy wil doen waar hulle ook al geroep is,

  4. Die eerste sendingveld in die wêreld is om die kerk na die markplein te neem.

  5. Die beste manier om die Koning in vyandige gebied te plant is deur die markplein te transformeer,

  6. Koninkrykskerke erken, salf doelgerig en gereeld koninkrykswerkers.

Lui leiers

Een wat nalatig is met sy werk en een wat alles afbreek, is tweelingbroers (Spreuke 18:9)

Luiheid is sonde, dit is ook ondoeltreffend in leierskap. Baie van ons neig na luiheid as dit by leierskap kom. Hier is sewe voorbeeld van lui leierskapspraktyke:

1. Aanvaar die antwoord sonder om vrae te vra.

Soms is dit makliker om eenvoudig vorentoe te beweeg. Soms het ons net nie genoeg energie spandeer om die regte besluit te neem nie. Soms is ons bang om die regte antwoord te hoor. Soms dink ons ons ken die regte antwoord. Dit is ‘n lui manier van besluitneming.

2. Geen delegering nie

Dit is soms makliker om dit self te doen as om deur die proses van delegering te gaan. Goeie delegering is harde werk

3. Die handdoek ingooi na die eerste probeerslag

Niemand hou daarvan om te misluk nie. Dit is makliker om ‘n droom te skrap as om deur teenstand te veg. As die droom in die eerste plek geldig was, is dit seker steeds geldig.

4. Jy belê nie in jong leiers nie

Daar is die ouderdomsgaping – verskille in waardes, kommunikasiestyle, verwagtings, ens. Dit is makliker om jou te omring met mense wat net soos jy dink., maar wie is in die langtermyn wenners van so ‘n benadering?

5. Aanvaar gemiddelde prestasie

Dit is moeiliker om vir uitmuntendheid te druk. Gemiddelde resultate is die gevolg van gemiddelde pogings. Dit is harde werk wat die beste prestasies tot gevolg het.

6. Nie verduidelik hoekom nie

“Doen net wat ek sê.” Hierdie benadering spaar baie van die leier se tyd. Waarmee ek sit is ‘n groep pionne. Om gedurig die visie weer te verduidelik is harde werk, maar noodsaaklik vir die beste resultate.

7. Vermy konflik

Niemand hou van konflik nie. Jy kan nie doeltreffend lei sonder om konflik te ondervind nie. Elke besluit van ‘n leier is onderhewig aan goedkeuring of afkeuring. Dit is waarom ons leiers het. As daar net een rigting was, hoekom het ons leiers nodig? Om die beste te bereik, moet jy mense verder as ‘n eenvoudige kompromis, wat almal gelukkig maak, lei

Gaan kyk na die mier, luiaard, kyk hoe hy werk en leer by hom (Spreuke 6:6)

As jy lui leierskap beoefen het, bely dit en draai weg en doen die harde werk van leierskap. Jy en jou span sal daarby baat.


bottom of page