Jesus Christus: Onopgesmuk en sonder draadwerk
top of page

Jesus Christus: Onopgesmuk en sonder draadwerk


ʼn Jong, ongetroude meisie raak swanger buite die eg, skenk hulpeloos geboorte in ʼn stal. Die seuntjie, besmeer met vernix caseosa, lê skreeuend in ʼn krip. ʼn Skrynwerker-pa, gedienstige moeder, nederige skaapwagters en drie heidense sterrekykers is die enigste getuies. Hy word groot in Nasaret. Kan daar iets goeds uit Nasaret kom?

“Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die mens het nie eens ʼn rusplek vir sy kop nie.”

Tollenaars. Prostitute. Samaritane. Kinders en vroue. Vissermanne. Gemarginaliseerdes.

Jesus Christus: Eenvoudig. Onopgesmuk en sonder draadwerk. Tog eksentriek en interessant. ʼn Rebel en revolusionis.

Radikaal anders.

En dan die kruisiging. Wreed en vuil. Bloed. Splinters en trane. Suur wyn en asyn. Ruwe spykers. Growwe hout. Spot en smaad. Spies deur die sy. Die bebloede, verminkte lyk in ʼn doek toegedraai en behandel teen die stank. Waar is die Here heen?

“My kind. Ek het nie gepoeier en ge-dress gearriveer nie. Besittings en liggaamlike gemak beteken niks nie. Ook nie aardse mag en genot nie. Blink en skoon het min waarde: Kinders met vuil handjies en die doodsreuk van my vriend Lasarus. In ʼn skuit op die stormsee – vrees hang swaar in die lug. Angstig en knielend in Getsemane terwyl die bloed drup-drup.

“Ek het in die stof gestap en onder die sterre geslaap. Op oop vure gekook en putwater gedrink. Voete gewas en ʼn prostituut toegelaat om mý voete te was.

“Ek het gekom om te dien. Om vuil te word en te deel.

“Ek is die Christus, die Messias, die Verlosser. Ek is God”


bottom of page