10 things you must know about the global war on Christianity [resensie
top of page

10 things you must know about the global war on Christianity [resensie]


Westerse Christene weet nie van ‘n prys wat ‘n mens moet betaal vir jou geloof nie. Ons meen dalk om Jesus se kruis op te neem en agter Hom aan te loop, het meer met juweliersware en kunswerk as lyding te make. Dit is egter nie regoor die wêreld waar nie. Daar is Christene wat in ‘n daaglikse geveg teen die dood stry. Wat nodig is, is dat ons in ons sekuriteit en vryheid bewus sal wees van broers en susters wat hulle in omstandighede bevind waar hulle ons en ons gebede nodig het. En dit is wat dié boekie wil doen.

Sonder om baie tyd te mors, verskaf die skrywer nuttige en nodige inligting oor die strydende kerk. En selfs belangriker: wat kan ek en jy doen daaraan.

Elke maand word gemiddeld 322 Christene vir hulle geloof vermoor, 214 kerke word vernietig en 772 dade van geweld word teen Christene gepleeg, in die vorm van verkragting, aanranding, geforseerde huwelike, arrestasies en ontvoerings. Wanneer Christene stilbly hieroor, neem hulle deel aan die goedkeuring dat dit mag gebeur.

Christene is die mees vervolgde godsdienstige groep op aarde. Meer Christene is in die twintigste eeu vermoor as in die negentien eeue voor dit, en dit sluit die eerste twee eeue in wat die Kerk aktief deur die Romeinse owerhede vervolg is. Vandag vervolg regerings en godsdienstige ekstremiste die kerk terwyl gemeenskappe en gesinne groot druk op sommige Christene uitoefen om hulle geloof te versaak. Vervolging van Christene begin gewoonlik polities deur marginalisering en diskriminering teen gelowiges, wat mettertyd gewelddadig kan raak. Diktature is Christene se grootste vyand omdat dié regerings hulle die meeste aktief vervolg. Dink maar aan Noord-Korea, Eritrea, China en ander diktature. Om jou lewe aan die Here te gee, is vir sommige mense die gevaarlikste besluit wat hulle op aarde kan neem. Vervolging van Christene lei soms tot die uitwissing van kultuurgroepe. In die 1990’s was daar twee miljoen Christene in Irak. In 2013 was daar slegs tweehonderd duisend van hulle oor.

Wat kan ons as gelowiges aan die lot van sulke mense doen? Dit is die belangrike vraag waarby die boek uitkom. Ons kan sorg dat ons ingelig bly oor die lot van vervolgde Christene deur op nuusberigte te konsentreer wat inligting bevat, maar ook deur webwerwe soos World Help, Geopende Deure en ander organisasies wat direk betrokke is. Ons kan ook betrokke raak deur daaroor te praat, deur te bid en deur organisasie te steun wat by vervolgdes betrokke is.

‘n Klein boekie met ‘n kragtige boodskap vir gelowiges wat belang stel om deel van die liggaam van Christus op aarde te wees.


bottom of page