top of page

Word deel van die mooiste Kersspel ooit


Ek het al die volgende verhaaltjie iewers gedeel, maar dit bly vir my roerend mooi. Dit handel naamlik oor kindertjies wat ‘n Kersspel by hulle kerk opgevoer het. Die outjie wat die herbergier gespeel het en wat vir Josef en Maria moes sê daar’s nie plek in die herberg nie, het swaar gekry om dit te sê tydens inoefening. Vir hom was dit net nie reg om hierdie arme twee mense sonder ‘n slaapplek weg te stuur nie. Maar die Sondagskool juffrou het voet by stuk gehou. Hy moes eenvoudig vir “Josef en Maria” wegstuur. Die aand tydens die opvoering toe Josef en Maria by die herbergier aankom, het hy doodstil gestaan. Toe die juffrou van agter die gordyn af vir hom sê om vir Josef-hulle te sê daar’s nie plek nie, sê hy: “Ongelukkig is die herberg vanaand vol.” Maar toe Josef en Maria met hangskouers van hom af wegstap, roep hy haastig uit: “Wag, julle kan vanaand my slaapkamer kry. Ek sal in my ma-hulle se kamer op die mat gaan slaap!”

Die hele toneel was ontwrig. Die juffrou was kwaad en die jong akteurs het ook nie geweet hoe verder nie. Maar miskien was dit die beste Kersopvoering nog! Want die outjie wat die herbergier gespeel het, het iets van Jesus se soort Kersfees gesnap. Hy het besef dat Kersfees regtig oor iets anders, nee: oor Iemand anders, gaan. Jesus is die Een wat Kersfees met nuwe inhoud vul. Jesus se presente is nie met helder papier toegedraai nie. Hy bring ook nie sakke vol goedkoop geluk na ons toe nie. Hy verander mense. Hy maak dat selfs kindertjies hulle kamers afstaan aan mense wat nie ‘n dak oor hulle kop het nie. Kersfees is ‘n ander soort fees vir mense wat Jesus volg. Ja, sy mense gee ook presente weg, maar hulle doen meer as dit. Hulle gee iets van hulleself weg. Kerstyd is ‘n tyd van deernis. Dis ‘n tyd wanneer Jesus se volgelinge diegene raaksien wat nie kos op hulle tafels het nie, en niemand om vir hulle goed te wees nie. Dis die tyd dat sy kinders ‘n kruk word vir diegene wat deur die lewe mank geslaan is. Kerstyd is omgee-tyd, trane-afdroog-tyd, selfgee-tyd.


bottom of page