God gebruik jou daar waar jy is
top of page

God gebruik jou daar waar jy is


Die Here roep ons om daar waar ons is om ’n verskil te maak. Vat vir Karl Plagge (1897-1957). Hy was ’n Duitse SS offisier in die Tweede Wêreldoorlog wat gesorg het dat 1,240 Jode se lewens gespaar is. As offisier in Lituanië tussen 1940-1944 het hy gesorg dat Joodse werkers in sy eenheid goeie kos kry, asook werkspermitte wat hulle lewens gered het terwyl massas Jode rondom hulle vermoor is in die strafkampe. Toe Plagge in 1944 sy posisie moes ontruim in die lig van die aankomende Russe, het hy die Jode gewaarsku om te gaan wegkruip want die SS-soldate sou hulle doodskiet. So het hy nog 250 lewens gered. Na die oorlog het die Jode getuig van sy dapper optrede. Later is Plagge hiervoor vereer. Vandag nog is daar sulke mense wat binne onregverdige sisteme die Here se lig laat skyn. Wat help dit almal verlaat die politiek, die polisie, die staatsdiens, of die land net omdat hier korrupsie is. Die Here ontplooi sy voetsoldate orals. Ons word geroep om in die donker sy lig te wees. Selfs net een van sy kinders kan baie lewens red en die ewigheid oopsluit voor stukkendes en verdwaaldes. Wees so iemand in Christus se Naam.


bottom of page