Matteus se Kersverhaal spesiaal vir SA bedoel
top of page

Matteus se Kersverhaal spesiaal vir SA bedoel


Oral sien mens nou weer Kersuitstallings, Kers-winskopies, Kersversierings. Hoe behoort mens Kersfees te vuur in ‘n land soos Suid-Afrika? Die Matteus-evangelie werp nogal vir ons interessante perspektiewe hierop. Matteus begin sy Kersverhaal baie anders as Lukas. Hy begin by die vreemde geslagsregister van die Koning wat binnekort kom. Ek sê “vreemde” want koninklike geslagsregisters het gewoonlik geen vrouename bevat nie. Die name van die mans wat egter wel genoem word is sorgvuldig uitgekies as die beste verteenwoordigers van die familiegeskiedenis: die belangrikste leiers, die mees invloedryke mense, die rykste konings en dies mees voorbeeldige lede van die stam. Nie Matteus nie. Hy sluit nie-respektabele mans in asook vier vrouens van uiters twyfelagtige reputasie. Wat die vrouens betref sluit hy eerstens vir Tamar in, die vrou met losse sedes wat vir Juda verlei het deur haarself voor te doen as ‘n prostituut. Tweedens vir Ragab, die prostituut wat deel van die Kanaänitiese stam was, die etniese vyande van Israel. Derdens die Moabiet Rut wat van onsuiwer afkoms was. Verder noem Matteus blatant dat Dawid die vader was van Salomo “by die vrou van Urija”. Dit herinner enige leser daaraan dat die grote Salomo gebore is uit die owerspel met Batseba sowel die moord van Urija, die onskuldige.

Die rede is dat die boodskap van die begin af die indruk wil skep dat God in Jesus, die God is wat almal graag wil insluit: die slegtes en die goeies, die voorbeeldige en die immorele, die heiliges en sondaars. Hierdie nuwe Koning het geen grense nie. Hy bou nie mure tussen mense soos ons nie. Hy bou brûe. Hy sluit almal in en nooi hulle om deel van sy familie te wees. Ons stel te maklik grense tussen onsself en mense wat nie “soos ons” is nie. Meng jou met die semels dan vreet die varke jou op, so het my ma immers geleer. Ek is nie heeltemal seker of so ‘n lewenshouding in ons mooi land met al sy diversiteit produktief gaan wees nie. Wanneer jy in die boodskap van Kersfees glo en uitleef dan behoort jy doelbewus – net soos Jesus – mense in te sluit wat anders as jy is: mense van ander sosio-ekonomiese groepe, mense van ander velkleure, mense wat nie altyd met jou saamstem nie en selfs soms vyande.

Wanneer ons dus by die Kerstafel aansit hierdie jaar, dan moet ons onsself dalk maar herinner daaraan dat ons nie die party is wat die nooiwerk doen nie. Jesus is die Koning. Hý doen die nooiwerk. En Hy nooi vreemde mense om saam met ons aan te sit. In plaas daarvan om dus hierdie jaar krities te dink oor die mense aan tafel moet ons dalk eerder net te dankbaar wees dat ons ook genooi is.


bottom of page