Meer van die regte soort woorde!
top of page

Meer van die regte soort woorde!


Thomas A Kempis skryf dat ons eintlik nog niks van nederigheid verstaan as ons nie bereid is om aan alle mense wat oor ons pad kom onderworpe te wees nie. Dit vra dat ons taal teenoor hulle ook moet verander, soos wat ons ook verlede week gesien het. In kort, dien ander met vriendelike taal - maak nie saak wie of wat hulle is nie. Praat asseblief mooi met almal wat jou pad daagliks kruis, of hulle arm is of ryk, mooi of lelik, jonk of oud, rugby ondersteuners of nie! Moenie verskillende tipes taal in jou arsenaal hê vir verskillende mense nie. Vriendelike woorde, liefdevolle taal – dit moet die enigste hemelse goud op jou tong teenoor almal wees. Sagte taal moet die salf wees wat mense ervaar wat met jou te doen kry.

Natuurlik hoef jy nie net vroom woordjies te prewel nie. Jy mag van ander mense verskil. Jy mag kwaai en reguit wees, mits dit gebeur volgens Efesiërs 4:26 se voorskrifte. Oppas vir ‘n harde taalgebruik wat mense seermaak en veroordeel. Liefdelose taal is ‘n gevaarlike wapen in die hand van ’n hoogmoedige. Onnodige woordewisselinge kan groot skade maak. Weier om seermaak-gesprekke te voer. Slagtande pas nie by ons as skape van die hemelse Herder nie. Waar het jy nou al ooit skape met slagtande gesien (behalwe in sommige godsdienstiges se monde)? Paulus skryf juis vir Timoteus dat knegte van God nie twisgierig moet wees nie, maar vredemakers. Praat vrede en maak vrede! Dan word Jesus se woorde in die Bergrede waar. Daar het Hy gesê dat die koninkryk van die hemel aan die vredemakers behoort. Sagter woorde, genesende taal, dis die uitdaging vir jou en my tong hier aan die einde van 2017. Nog meer, ons moenie net reg praat nie, ons moet ook sorg dat ons ook op die regte plekke reg praat. Daar waar mense baklei en stry, daar waar woorde messe en slagtande geword het, juis daar moet ons nuwe woorde gehoor word.


bottom of page