The wisdom of God [resensie]
top of page

The wisdom of God [resensie]


Die naam van A.W. Tozer is vir talle mense bekend. Hy was ‘n gewilde prediker en bekende skrywer wat in die eerste helfte van die twintigste eeu ‘n groot impak gehad het. Sy The pursuit of God en The knowledge of the holy is maar enkele van veertig boeke wat talle mense se lewens beïnvloed het.

In dié boek is materiaal uit Tozer se beste preke oor wysheid saamgestel, ‘n onderwerp waaroor hy baie gesels het. Dié preke is nooit gepubliseer nie en die samesteller, James L. Snyder, het ‘n uitstekende stuk werk gedoen om wat Tozer in talle preke geleer het, te sistematiseer en saam te vat in ‘n boek wat ‘n groot impak op lesers gaan hê.

Ons is na die beeld van God gemaak en die enigste lewenswyse wat die moeite werd is, wat God eer en tot ware vrede, vreugde en vergenoegdheid lei, is ‘n lewe wat die wysheid van God uitleef. Ons Skepper weet hoekom en hoe en waarvoor Hy ons gemaak het. As jy slim is, gaan leer jy by Hom, veral omdat ons nie ‘n tweede kans kry om dinge te verbeter nie!

Die boek bestaan uit korterige hoofstukke wat oor onderskeie temas handel en gemaklik binne ‘n redelike kort tydjie gelees kan word. Vrae wat gestel word, is: wat is die Hebreeuse betekenis van ‘wysheid’, terwyl die Ou Testament soveel keer daarna verwys? Wat beteken dit dat die Nuwe Testament ons leer dat Jesus die Wysheid van God is? Watter lesse kan ons by die ewige wysheid van God leer? En wat is die gevolge wanneer ons daardie wysheid gebruik om ons lewe in te rig? Hoe verander dit ons gesindhede, besluite en verhoudings?

Wat is die wortel en essensie van goddelike wysheid? Hoe kan ek en jy dié wysheid bekom? Wat moet ons doen? Wat beteken dit in die praktyk? Hoe leer wysheid my om in versoekings op te tree? En om God se hand in alles wat gebeur, te sien?

Wysheid is meer as ‘n lys instruksies. Dis ook nie ‘n filosofiese konsep nie. Dit is ‘n hoogs praktiese stuk gereedskap wat jou in staat stel om die bes moontlike lewe te lei. Dit is deel van God se karakter en onafskeidbaar van sy liefde en genade. Om sy wysheid aan te gryp, beteken om nader aan Hom te lewe.

Jy kan aan die voete van een van die groot leermeesters van die vorige eeu gaan sit deur dié boek as studiehulp in die hand te kry.


bottom of page