top of page
  • deur Alet Gardner

Lag met ‘n traan


My pragtige skoondogter het op haar wittebrood ‘n slegte beenbreuk opgedoen tydens ‘n perdry-ekspedisie. Die been het geheg en die wond het genees, maar toe haar seuntjie baie jare later per ongeluk op die litteken druk, was dit ongelooflik pynlik. So gebeur dit ook met ons emosionele trauma – dat selfs as daar net emosionele littekens oorbly, die oorspronklike trauma in herinnering geroep word wanneer iemand selfs net per ongeluk aan hierdie “littekens” raak. So vergeet ek dalk soms half en half van die onbillike skeldende kritiek deur ‘n ouer/onderwyser en kan dan nie verstaan hoekom ek so heftig reageer wanneer iemand my jare later kritiseer nie.

Maar hoe gemaak wanneer ek binne-in ‘n pynlike situasie sit en die seer ondraaglik is? Terwyl ek te midde van die gebrokenheid smag na genesing, gerief, geluk? Dis hier waar my suster onlangs vir my so ‘n wonderlike voorbeeld was. Met haar volwasse seun se stryd teen kanker en sy geleidelike agteruitgang, het sy hom liefdevol versorg en nie in die dryfsand van moedeloosheid en verbittering vasgeval nie. Terwyl sy kon reken op die emosionele/geestelike ondersteuning van haar familie in die verte, het sy daagliks haar krag by die Here gekry en gereeld haarself en die res van ons opgekikker met die aanstuur van ‘n skreeusnaakse grappie. Hier het ek die waarde geleer van nie net te lag met ‘n traan nie, maar om te lag tussen ons trane deur.

In plaas daarvan om soos ‘n verdwaalde bossie te sukkel op die soutvlakte van seer en swaarkry, het ek as Christen die wonderlike voorreg om langs die stroom van standhoudende, lewende water wortel te skiet. Sodoende gaan ek nie net oorleef in swaar tye nie, maar deurentyd blare van genesing (vir myself en vir ander) hê en vrugte (Heilige Gees vrugte) dra wat ander ook kan voed en bemoedig – een aspek hiervan is juis ‘n blywende blydskap in Hom wat my liefhet.

My en jou troos lê in hierdie belofte:

Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe. – Jeremia 31:3b NLV


bottom of page