Waar is Christus in Krismis?
top of page

Waar is Christus in Krismis?


Vier jare gelede het ons gesin besluit om Kersfees op ʼn ander manier te vier en ons kyk nie terug nie. Ek het in 2013 hierdie blog gepubliseer en deel dit graag:

Kersfees is op ons. Die klokke het in Oktober al begin lui en Boney M kielie elke jaar my ore ’n rapsie vroeër. Kersvader met sy katoenbaard en rooi wolle in die Laeveldhitte… En om nie te praat van die meganiese kabouters wat jaar na jaar in die mall staan en speelgoed bou nie: Twintig kindertjies staan die “wonderbaarlikheid” oopmond en aangaap. Dit is net blieng waar jy kyk. Blinkgoud, blinksilwer, blinkrooi, blinkgroen, blinkstefaans.

Ek besluit om weer ʼn slag na te lees oor waar Kersgebruike hul oorsprong het. Kersboom. Kersvader. Kerskaarte. Kersversierings. Kersgeskenke. Kerskranse. Kersliggies. Kersfeesbokke. Kersfeesklokke. Kerskoekies. Kerskouse. Ek hou hoeka van lees. Dit kan nie te moeilik wees nie. Ek doen ’n brawe ding en Google “father+christmas+history.” 204 miljoen hits. Hmmm… Miskien sal ek eers bietjie op die bed gaan rus. Onder die waaier. Dit is 38°C en al die prentjies van Kersvader in sy rooi flennie laat my net onnodig sweet.

Ek wonder waarom dit vir my so belangrik is om te probeer uitvind waarom die mensdom Kersfees vier soos wat hulle dit jaar in en jaar uit doen. Hoekom is ek op ’n missie om die duiwel in Kersfees te gaan soek en te ontbloot vir die skurk en kwaadstoker wat hy is?

Die antwoord: Ek is bloot nie meer tevrede met die manier hoe ek en my mense Kersfees vier nie.

Die geldsomme moet klop! Die Kersete word weke vooruit haarfyn beplan en dae voor die tyd sloof ek myself reeds in die kombuis af. Kersversierings moet uitgepak, -gestal en -gehang word. Kersgeskenke word sorgvuldig uitgekies, gekoop en toegedraai. En moet tog net nie vergeet om die vrugtekoek te dokter nie. Hoe laat begin die Kersdiens nou weer? Dan bevind ek my jaar in en jaar uit die dag voor Kersfees in die mall. En die termometer styg…

Toe die kwik 39°C slaan, neem ek ’n berekende besluit.

Ons gesin se Kersfees-tradisies gaan effe aangepas word. Die Kersboom kan maar waai. Die ding mors in elk geval net.

Daar gaan steeds geskenke gekoop word, maar nou vir die sewe werkers hier op die plaas, vir ’n vergete mens by die ouetehuis. Nié vir onsself nie. My kinders moet leer dat dit ons, in stryd met volksgeloof en tradisie, tóg gelukkiger maak om te gee as om te ontvang. Hulle moet maar help koop, toedraai en uitdeel.

Ons sal steeds lekker eet op Kersdag. Of miskien eerder die aand voor die tyd. Ons gaan immers ʼn heilige verjaardag vier. En jy gaan my définitief nie ʼn dag voor Kersfees in die mall raakloop nie!

Ons gaan die Christus na Krismis terugbring.


bottom of page