Fearless parenting [resensie]
top of page

Fearless parenting [resensie]


George Barna & Jimmy Myers. Fearless parenting: How to raise faithful kids in a secular culture. BakerBooks. 2017

George Barna is ‘n bekende skrywer van talle boeke wat ook statistieke inwin en aanwend om die godsdienstige omgewing en kultuur te karteer. Hier span hy kragte saam met ‘n berader wat spesialiseer in die behoeftes van adolessente en hulle families. En die eindproduk is nie maar net nog ‘n boek oor ouerskap nie maar ‘n gids wat jou as ouer in staat stel om jou kind te verstaan teen die agtergrond van die konteks waarbinne jou kind leef (wat dramaties verskil van die konteks waarteen jy as tiener geleef het). En te help om te verstaan wat jou kind se geestelike behoeftes is, en hoe om daarin te voorsien.

Ons kinders leef in ‘n samelewing wat hulle in die vorm van narsissisme en selfsugtige nastrewing van eiebelang wil indwing. Dit is ‘n wêreld van morele anargie wat ons kinders in die oë kyk. Hulle benodig dringend leiding as ons hulle in staat wil stel om getrou aan die Here te leef. Ouerskap moet intensioneel aangepak word en vereis dat ouers konsekwent en beginselvas optree.

Jy gaan hier leer om jouself voor te berei vir jou taak as ouer. Om beheer te neem oor jou kinders se geestelike ontwikkeling, om familieverhoudings te prioritiseer en die gebruik binne die gesin te stabiliseer, om vernietigende gedrag wat ouers dikwels aan die dag lê, te verwerp (dit verwys na onbeheerste uitbarstings van woede oor tieners se gedrag, skuldgevoelens wat ouers saamdra oor hulle kinders en skaamte). Jy gaan jou kind se aansprake op materiële voorregte verstaan en kan hanteer. Jy gaan jou kind kan help om sosiale media te bestuur en die selfoon reg te gebruik. Jy gaan jou kind weerbaar maak teen pornografie in verskillende vorms. En jy gaan eiewaarde vir jouself as ouer kan bou. Want om kinders groot te kry, kan vernietigend wees vir enige ouer se selfbeeld!

Op die agterblad het een resensent die boek goed opgesom: “George Barna’s incredible research and understanding of culture, combined with Jimmy Myers’s practical parenting and counseling insights, makes Fearless parenting a must-read. This book will give you great discernment in understanding how to parent a child growing up with today’s cultural pressures.”

Beter kan ek dit nie opsom nie. ‘n Belangrike boek vir ouers wat hulle tieners en die wêreld waarbinne hulle leef, wil verstaan.


bottom of page