top of page
  • Writer's pictureekerk

10 April 1993


Dit is my pa se begrafnis. Dit voel so onwerklik… dit voel asof ek droom. Daar is baie predikante; die met wie hy geswot het en die wat al jare met hom ‘n pad gestap het. Dit voel so onwerklik… By die kerkdiens in Wellington meld die dominee verskriklike nuus. Die politikus Chris Hani is die oggend vermoor. Ek stel nie regtig belang nie. Al waaroor ek wonder is die ‘hoekom?’. Ek verstaan nie hoekom God my pa laat siek word en laat sterf het nie, dit terwyl hy God gedien het as predikant. Aan die ander weet ek ook my pa het nie mooi gekyk na homself en sy gesondheid nie. Hy het baie gerook en gestres oor ander mense en veral wat die kerkraad dink. Verdomde kerkraad! Altyd gekla oor alles… as dit nie die pastorie se waterrekening is nie, is dit die telefoon. Waar bring dit ons nou, maar dit is tog moeilik vir baie mense om dikvellig te wees, veral as jy nie so gebore is nie. Partykeer se mense hulle steer hulle nie aan ander se woorde nie, maar tog maak dit seer.

Ek sien dit so baie by die graad 7 leerders by die skool. Hulle lag saam wanneer hulle maats oor hulle grappe maak, maar vanaand wanneer hulle alleen is (vertel hulle my), loop die trane op hulle kussings. Baie volwassenes is nog steeds so. Ons lag saam rondom die braai oor jou boep wat so groot is, maar vanaand as al jou vriende huis toe is en jy jouself in die spieël kyk dan doen dit baie aan jou selfbeeld.

Die dominee preek so hoog dat hy my naam vergeet en iemand wink vir hom daar’s drie seuns. Die kleinste van die drie is ek, Arthur-Ashé. Ja, my pa was baie mal oor tennis en het op Britstown in die Noord-Kaap baie kompetisies gewen. Vir julle ‘millenials’… Arthur Ashe, sonder die koppelteken, was die eerste anderskleurige wat Wimbledon gewen het. My pa het drome gekoester vir my. Ek het my eie private afrigter gehad en elke dag 3 ure op die tennisbaan gespandeer. Ek kon baie dinge met ‘n tennisbal verrig, net wat ek wil, maar die lewe het anders gemaak. Op 17 breuk ek my regterduim en sukkel om ‘n raket vas te hou. So loop die lewe met ‘n mens… ander paaie as wat jy dink.

Die begraafplaas is ‘n nare affêre. Daar kan ons nou weer iets leer by ons ander broers en sisters van die NG Kerk. Gou-gou is daar ‘n klein diens by die kerk, terwyl die lykswa by die deur wag en later word die liggaam te verbrand. Geen langdradige in-die-grond-afsak-dramas nie. Daar gaan my pa… sy lewe vir ander mense gegee en wat het ons oor…


bottom of page