top of page
Writer's pictureStephan Joubert

Geloof lek


  • Behandel jy belangrike mense anders as “gewone” mense? Verwag jy dat mense jou altyd op sekere maniere moet behandel en neem jy hulle kwalik as dit nie gebeur nie?

  • Praat jy minder hoflik met mense wat minder aansien in jou eie oë het as vernames?

  • Val jy mense gedurig in die rede? Voltooi jy sommer hulle sinne namens hulle, of praat jy hulle dood?

  • Korrigeer jy ander gedurig as hulle opinies, gedrag of idees nie met joune ooreenstem nie?

Ons taalgebruik kan gou-gou in ’n wapen verander waarmee ons mense “op hulle plek” hou. In Matteus 23:6-8 waarsku Jesus juis teen “godsdienstiges taal” wat eintlik maar net ’n vroom masker is waarmee sekere mense hulle eie arrogansie en magsbeheptheid versteek. Hy verwys met name na sommige godsdienstige leiers in daardie tyd wat baie gesteld op al die titels waarmee almal hulle moes aanspreek. Boonop het hulle ook aanspraak gemaak op voorkeur-behandeling op grond van hulle “hoë godsdienstige status.” Jesus roep ons op om nie in dieselfde strik te trap en te dink ons is iets besonders nie. God kan dit nie vat dat mense dink hulle is beter as ander nie. Ons is geroep tot nederigheid. Ons moet dit inoefen deur aanhoudend op te kyk na God en ander. Ook moet ons vars nuwe taal inoefen wat deurdrenk is met respek en omgee. Ons taal moet die afstand tussen ons en ander mense laat krimp op die regte maniere. Ons geloof wys immers hoe ons met en oor ander mense praat. Ons geloof lek uit in die maniere hoe ons onsself gedra tussen ander. En dit geld veral ten opsigte van mense wat anders as ons lyk, dink of glo. As ons mense van kleur byvoorbeeld met minder respek aanspreek of behandel, dan kort ons nuwe hartstaal. En as ons afpraat op andersdenkendes, ongelowiges, sondaars en kie, kort ons nuwe harte, Jesus se nederige soort!


bottom of page