Moenie op “auto-pilot” leef nie
top of page

Moenie op “auto-pilot” leef nie


Wanneer ‘n vliegtuig op “auto-pilot” vlieg, gebeur alles outomaties. Party mense leef ook so. Hulle leef outomaties en onnadenkend… Hulle koppe het bevrore geraak. Om outomaties te leef, is goor. Hoekom? Dit beroof jou van die grootste geskenk wat God aan jou gegee het, naamlik jou kop. Die Here het aan jou ’n kop in werkende toestand gegee met ’n stoorspasie gelykstaande aan sowat 10 miljoen boeke van 1,000 bladsye elk (volgens een breinkenner se berekening). Ook het die Here aan jou kop die vermoë gegee om elke dag nuwe dinge te leer en te ervaar. Jou kop is rekbaar - as jy dit kies om dit leerbaar te hou! As jy egter nie aanhoudend ingryp op jou kop en toelaat dat die Here jou denke vernuwe nie, beroof jy jouself van die voorreg om te bly groei wat jou verstaan van God en die lewe betref. Om onnadenkend deur nog 'n vergadering, nog 'n byeenkoms, nog 'n kerkdiens, nog 'n werksdag voort te strompel, is om die mooi nuwe dinge wat God vir jou in gedagte het mis te loop. Kies om doelbewus meer oplettend te leef sodat jy God se genadewerke kan raaksien. Loop oop-oë deur elke dag se porsie lewe saam met die Here.


bottom of page