Daar’s eintlik nie iets soos Christen-sakemanne … of Christen-armes nie
top of page

Daar’s eintlik nie iets soos Christen-sakemanne … of Christen-armes nie


Iemand stel homself een keer aan myself voor met die woorde: “ek is ’n Christen-sakeman.” Toe sê ek: “nou ja, dan is ek seker ’n Christen-arme.” Toe lag ons albei. Hierdie verdere omskrywings tot ons geloof is altyd een woord te veel. Ek het genoeg gesê wanneer ek sê ek is ’n volgeling van Christus. Jesus is my hoogste en diepste identiteit wanneer ek Hom as Here bely. Volgeling van Jesus - dis wie ek is. Jesus is my volledige identiteit. Sodra ek enge verdere uitbreidings gebruik, dan word daardie tweede woord ’n identiteitsmerker. Dan is die gevaar dat dit later selfs in die pad kan begin staan van my volledige identiteit as Christen. As my sakeman wees, my sportman-wees, my Afrikanerskap of wat ook al, in dieselfde asem met my navolging van Jesus genoem word, kan ek later ’n dubbelslagtige identiteit ontwikkel. Verstaan my nie verkeerd nie, ek mag ook ’n sakepersoon, sportman en Afrikaner ook wees, maar dit kan nooit my identiteit grondliggend bepaal wanneer ek sê “Jesus is die Here” nie.

Party Amerikaners speel soms ‘n speletjie genaamd “Bigger and Better.” Dit begin met iets van min waarde, soos ‘n 10 sent stuk. Dan vra jy vir iemand of hulle dalk iets van groter waarde wil verruil vir hierdie 10c. Hierna vat jy daardie item en ruil dit nogmaals op vir iets van hoër waarde. Die doel van die speletjie is dat jy uiteindelik opeindig met items van meer waarde as die 10c waarmee jy afgeskop het. Jesus doen ook hierdie “Bigger And Better” roete met my. Maar in sy weergawe van hierdie spel gaan dit nie daaroor dat ek opeindig met meer geld of besittings nie. Jesus daag my uit om alles wat in my eie oë saak maak in te ruil vir Hom. Hy vra van my of ek alles wat tans my identiteit bepaal en my menswees definieer sal inruil vir Hom. Hyself is die hoogste prys in die plek hiervan.


bottom of page