Volg Hom. Nie jouself nie.
top of page

Volg Hom. Nie jouself nie.


Terwyl Israel op pad was na die land wat die Here vir hulle sou gee, het hulle die hele tyd gevoel dat die Here in die tent was. Eksodus 40:38a

‘n Hoë IK, gesonde verstand en genoegsame inligting is blykbaar nie genoeg vir ons mensdom om die regte keuses te maak en die wysheid van God te volg nie. Iewers in ons is daar iets anders wat maak dat ons soms besluite teen ons eie beswil neem. Ons weet goed wat die gevolge van rook is, maar kan nie die gewoonte los nie. Ons hart weet ons moet nie met iemand trou nie, maar ons gaan staan tog saam met daardie mens voor die kansel. Ons weet dat ons gebalanseerd behoort te leef, maar kies steeds om ons te oorwerk. Ons koop wéér die dinge wat ons nie kan bekostig nie.

Waarom is dit so moeilik om die waarheid te volg? Miskien is dit omdat ons maklik vir onsself jok. “Ek sal ééndag ophou rook.”, “Ek sál die huwelik maak werk.”, “My baas verwag van my om so hard te werk.” en “Ek sal volgende maand minder spandeer.” sê ons. En so jok-jok-vir-onsself probeer ons ons verkeerde besluite regverdig.

Die antwoord lê daarin dat ons besef dat ons self te swak is om God se wil te volg en dat ons met groter eerlikheid, erkentlikheid en afhanklikheid sal bid: “Here, kom my swakheid asseblief te hulp. Help my om U te volg. Nie myself nie”

Here, ek wil u waarheid vandag heeltyd by my voel.


bottom of page