Healing the scars of childhood abuse [resensie]
top of page

Healing the scars of childhood abuse [resensie]


Kindermishandeling neem talle vorme aan en kom baie wyer in die Suid-Afrikaanse samelewing voor as wat statistieke ooit kan aandui. Dit is die hartseer verhaal van derduisende kinders wat emosioneel, fisies, seksueel en intellektueel aangerand word deur ouers en ander volwassenes van wie hulle afhanklik is. Dit kan ‘n enkele gebeure wees of dit kan oor jare aanhou. Armoede is ‘n vorm van kindermishandeling vir talle, wat geleenthede ontneem en kinders in sosiale omstandighede plaas wat dodelik kan wees. En die hartseer is dat talle kinders hulleself verantwoordelik hou vir die wandade wat volwassenes (of tieners) teenoor hulle pleeg omdat hulle nie onderskeid kan maak tussen die skandalige daad van ‘n ander mens en hulle eie onskuld nie.

Daarom is dié boek tydig, nie slegs vir ouers van kinders wat deur die trauma gegaan het nie maar vir volwassenes wat daardie pad gestap het. Kinders wat misbruik is, ontwerp strategieë om te probeer oorleef. In die proses diskwalifiseer hulle dikwels hulleself om as onafhanklike individue te funksioneer, wat ook hulle volwasse lewe beheers.

Dit maak genesing ‘n voorwaarde om vry te word van wat gebeur het, die pyn wat dit veroorsaak en wat nie weggaan nie en die oorlewingstrategieë wat nie werk nie. Genesing lê op die terrein van die emosionele, kognitiewe, fisiese en geestelike en behels dikwels ook aandag aan die verhoudingslewe. Misbruik kan effekte hê wat ‘n mens se totale menswees kan omver werp.

En dit is waar die waarde van dié boek lê: dat dit stappe aandui wat tot genesing lei sonder om vals hoop of verwagtings te skep. Feit is: ‘n mens kan nie ‘n pleister opplak of gips aansit in ‘n poging om die breuk te laat heel nie. Genesing is ‘n tydsame, pynlike proses wat tyd gaan neem. Dit begin by wat in ‘n mens se kop gebeur. Jy moet die prentjie herskryf wat die lewe vir jou as kind geteken het. Jy is nie wat jy daar gemeen het jy is nie. Jy moet as’t ware ‘n nuwe jy ontwerp.

Ook in jou verhoudingslewe kan dit gevolge dra, en daarom moet jy leer om verhoudings op ‘n meer geskikte basis te herbou. Terselfdertyd hou dit implikasies in vir hoe ‘n mens God as Vader sien. Jy kan die pad na genesing nie voltooi sonder die Here nie. Soms is dit nodig dat jy eers ‘n ander beeld van die hemelse Vader vir jouself skep, en dalk die Here ook vergewe vir wat jy as kind beleef het en waarin Hy jou nie gehelp het nie.

‘n Moet-boek vir stukkende mense, en ouers van stukkende kinders. Ek beveel dit aan, maar onthou dat dit in talle gevalle gepaard moet gaan met professionele hulp deur ‘n opgeleide persoon wat jou kan dra.


bottom of page