Die verskil tussen ‘n Christen en ‘n volgeling…
top of page

Die verskil tussen ‘n Christen en ‘n volgeling…


Gandhi het vir my van die mees soberende woorde oor Christene ge-uiter. Hy het op ‘n keer gesê:

“I like your Christ, I do not like your Christians. Your Christians are so unlike your Christ.”

Christene wat nie soos Jesus lyk nie! Hoe is dit moontlik?! Hierdie woorde weerspieël egter vandag nog nie-Christene se gevoel oor gelowige mense. Alhoewel hierdie harde woorde is om aan te hoor moet ek bely dat ek heel dikwels deel van die probleem was (en is!). Laat ek verduidelik.

Te lank in my lewe het ek myself gesien as ‘n “Christen” en nie so-seer as ‘n volgeling van Jesus nie. Daarom dat my jong lewe as ‘n “Christen” – alhoewel gelowig – nie veel geopenbaar het van die lewe van Jesus nie. ‘n Christen kan daarom hoog en droog elke Sondag in die kerk sit onder die indruk dat hy/sy vergewe is, terwyl hy steeds selfsugtig en selfgesentreerd leef. ‘n Volgeling is egter geheel en al iets (iemand) anders!

Ons vergeet soms dat die manier waarop Jesus meeste van die tyd mense uitgenooi het om te reageer was met die woorde: “Volg My!” Daarom lyk ‘n volgeling anders as ‘n Christen. ‘n Volgeling het die “commitment” gemaak om nie net Jesus se kruisvergifnis te aanvaar nie maar… wel… te volg! Sy/ haar lewe weerspieël dit. Hulle stap waar Jesus stap en praat soos wat Hy praat.

Die belangrikste verskil tussen ‘n “Christen” en ‘n volgeling is dat ‘n volgeling dus elke dag intensioneel besig is om nuwe gewoontes aan te leer wat sy/haar menslike karakter vorm na die beeld van Jesus. Gewoontes kan ons maak of breek. Dink daaraan. Elkeen van ons is vandag die produk van die gewoontes wat ons langs die pad opgetel of aangeleer het. Ons kan nie meer word as die kwaliteit van die gewoontes wat ons aangeleer het nie.

Ons kan die beste intensies hê om byvoorbeeld gesond te leef maar indien ons nie intensioneel die gewoontes aanleer om kitskos te vermy, beter te eet en gereeld te oefen nie, gaan ons ongesond bly. Die regte gewoontes bring dus die deurslag, nie net goeie intensies nie.

Net so kan ons kan die beste intensies of bedoelings hê om ons liefde vir die Here te laat toeneem, maar indien ons nie intensioneel die gewoontes aanleer om gereeld te bid, Bybel te lees, en te leer om elke dag in verwondering te staan oor die heerlikheid van die Here nie, gaan daar nie veel gebeur nie.

Ons kan die beste intensies hê om vir mense lief te wees maar as ons nie intensioneel begin aanleer om alle mense gereeld te vergewe, te dien en met respek behandel nie, gaan ons naasteliefde nie ontwikkel nie.

Ons kan die beste intensies hê om nie rassisties te wees nie maar indien ons nie die gewoontes aanleer om doelbewus anderskleuriges te bevriend en kleur- en taalgrense oor te steek nie, gaan niks in Suid-Afrika verander nie en ook nie in ons lewens nie. Goeie intensies of te not. Christen of te not.

Indien meer Christene in die geskiedenis ook volgelinge was en nie net Christus se Naam vir hulleself toegeëien het sonder enige lewenstransformasie nie, sou Gandhi ons dalk heel anders beleef het. En wie weet, dalk sou Suid-Afrika – as ‘n sogenaamde “Christelike land” – baie beter daaruit gesien het!


bottom of page