So wen vreugde en entoesiasme
top of page

So wen vreugde en entoesiasme


Dit is C. S. Lewis wat geskryf het: “joy is the serious business of heaven.” God is regtig baie ernstig oor vreugde. Daarom skryf Paulus in Filippense 4:4 ons moet altyd bly wees. Nogtans het al so gewoond geraak aan al die klakouse en doemprofete rondom ons dat ons verras is wanneer ons vreugdevolle gelowiges raakloop. Dan maak ons opmerkings soos: “nou wat het oor jou lewe geloop dat jy so bly is?” Nee wag, ons is nie eens “surprised by joy” soos wat Lewis ook skryf nie, ons is eerder “confused by joy!”

Wanneer Paulus oor vreugde skryf, bedoel hy nie ons moet met ‘n aangeverfde glimlag rondloop terwyl dit binne in ons kook nie. God se vreugde kom altyd van binne af. Dit is die gevolg van ’n lewe wat in harmonie met God geleef word. Vreugde groei binne in ons wanneer ons kies om eenvoudiger te leef en minder te fokus op alles wat verkeerd is. Kompleksiteit is ‘n vreugedief. Kommer ook. Om vreugde in klein dingetjies te vind, verander die lewe in ’n groot avontuur. O ja, en ook om stadig genoeg te leef om aandag te gee aan daardie spesiale verhoudings in ons lewe met die Here, familie en vriende.

Wees bly in die Here! Geniet sy handewerk en sy mense. Wees entoesiasties. Hiervan gepraat, ek onthou die woorde van een Amerikaanse minister van Arbeidsake, James Hodgson: “I’ve never had ambitions, only enthusiasms.” Entoesiasme is nie ‘n reaksie nie, maar ‘n pro-aksie! Dit groei saam met vreugde in ons harte. Dit laat ons saam met Paulus in 2 Korintiërs 4:16 uitroep dat moedeloosheid nooit ons baas is nie. Al vergaan ons uiterlik, binne in ons word ons dag na dag vernuwe. Entoesiasme groei namate ons geloofsoog op die onsigbare werklikheid van God gerig is. Dan is ons hoop vas en ons hart lig. Dan kan ons meer lag. Dan kan ons meer leef, al sterf ons.


bottom of page