Slaan jy soms in angssweet uit?
top of page

Slaan jy soms in angssweet uit?


Na die laaste nagmaal verlaat Jesus Christus saam met sy dissipels die stad om teen die hange van die Olyfberg te bid.

Afgesonderd en alleen kniel Hy doodsbenoud met sy gesig teen die grond en smeek drie male tranerig: “Vader, as dit moontlik is, laat hierdie lydensbeker by My verbygaan.” Met die angssweet wat op die grond bloed korrel, hyg Hy verder: “Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil.”

Ek wonder elke slag as ek die verhaal met spanning lees oor waar die Vader was, die legioen engele tot sy beskikking. Het Jesus sy vertroostende hand gevoel? Of moes Hy in eensaamheid soebat? Waarom kon die drie nie net wakker bly nie? Of was dit dalk nodig dat die verlatenheid so intens oor Hom toesak? Hy was selfs in sy sterwensuur stoksielalleen: “Eli, Eli, lemá sabagtani!”

En die hopeloosste vraag: As die Vader nie eens sy eie Seun se gebed verhoor het nadat Hy drie male gesmeek het nie, hoe sal Hy ooit mý gebede verhoor?

Die logiese antwoord is te vinde in Hebreërs 5 (Nuwe Lewende Vertaling): “Terwyl Jesus hier op aarde was, het Hy hard uitgeroep en met trane by God gesmeek en gepleit, want God sou Hom van die dood kon red. God het Hom verhoor deur die angs vir die dood van Hom weg te neem.”

Nou verstaan ek skynbaar onverstaanbare dinge veel beter: Hoe Jesus so doodrustig vir Judas kon beveel: “Vriend, doen wat jy gekom het om te doen!” en hoe Hy vreesloos teenoor die soldate en wagte kon erken: “Dit is Ek!” Hy kon steeds vir Petrus in liefde betig: “Sit die swaard in sy skede terug.” Hy het nie een maal bevrees lam geraak en in verleentheid smekend vir sy lewe op die vloer geval nie.

Nou verstaan ek hoe Hy sonder vloek en skel die wag wat Hom soos ’n hond geklap het, kon antwoord: “As wat Ek gesê het, verkeerd was, sê dan wat was verkeerd; maar as dit reg was, waarom slaan jy My?” Ek begryp hoe Hy voor Pilatus kon getuig, helderdenkend en rustig: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.”

Hy het sy lot aanvaar, sonder wrokkigheid. Ook Judas se verraad, Petrus se pynlike ontkenning, die arres en geseling, die oordeel van die woedende, skreeuende gepeupel. Tussen die pyn en vernedering kon Hy selfs die krag vind om sy martelaars en moordenaars te vergewe.

So antwoord God my ook: Die doring in my vlees bly brand, maar Hy neem telkemale die angs weg om plek te maak vir vrede wat alle verstand te bowe gaan. Ek is immers tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.


bottom of page