Is sy bloed aan jou hart se kosyn?
top of page

Is sy bloed aan jou hart se kosyn?


Wanneer die Here, die Almagtige in die nag deur Egipte trek om hulle met die dood te tref en Hy sien die bloed aan hulle deurkosyne, sal Hy by daardie huis verbygaan. Hy sal nie die verwoester toelaat om daar in te gaan om die oudste seun dood te maak nie. Eksodus 12:23

Ons aanbid so ‘n genadige God. Die geskiedenis het dit oor en oor bewys. Ook destyds toe Hy besluit het om die Egiptenaars se eersgeborene seuns dood te maak, was sy groot genade bloedrooi aan die deurkosyne van sy volk geverf. Keer op keer het Hy sy ontroue volk maar weer gered, weer uit hulle gemors gehelp en weer ‘n keer vergewe. So het Hy keer op keer probeer om ons mensdom getrou aan Hom te maak totdat Hy geweet het: ons kan eenvoudig nie. Ons kan onsself maar net nie red nie.

Hoe groot is sy genade nie. Dat Hy uiteindelik bereid was om sy kosbaarste enigste Seun – die Lam – te slag sodat sy bloed aan die kosyne van ons harte geverf kan word en ons vir altyd kan leef.

Ons God se genade is verniet. En tog is dit nie goedkoop nie. Dis bloed-duur. Dit het die lewe van sy Seun gevra. Loof Hom vandag opnuut vir die groot genade dat die doodsengel by jou verby sal loop … en jy vir altyd sal leef.

O Here, dankie dat U my hart met u bloed beskerm van die ewige dood. Dankie dat ek daarom, nou reeds, voluit kan lééf!


bottom of page