Koninkryk kan moeë mense verkwik
top of page

Koninkryk kan moeë mense verkwik


Dis daardie tyd van die jaar. Mense vertel hierdie tyd van die jaar gewoonlik vir my hoe hulle uitsien na die einde van die jaar. Dis asof mense nie kan wag dat die jaar net verbyvlieg na Kersfees toe nie. Kroniese moegheid is aan die orde van die dag. Mense word beskryf as betrokke maar moeg, “committed” maar uitgeput. Breinwetenskap vertel vir ons van ‘n nuwe verskynsel wat veral in hierdie tyd sy kop uitsteek. Daar word sommer padlangs gepraat van “moeë brein-sindroom”. Ons breine raak so uitgeput dat – alhoewel ons groot-motoriese funksies soos asemhaling en spierfunksies nog steeds goed werk – daar ‘n afname is in ons besluitnemingsvermoëns. Moeë breine neem nie goeie besluite nie. Moeë breine raak aandag-afleibaar. Verder kan die nodige verbindings en konneksies tussen gedagtes en gebeurtenisse in ons lewens gebeur dan nie meer optimaal plaasvind nie. Ons verloor ook maklik die draad tussen verskillende essensiële elemente van ons gedagtewêreld. Gevolglik begin ons onwyse besluite neem waarvan ons nie meer al die implikasies raaksien nie.

Moeë breine het dringend nuwe energie nodig. Volgens skrywer Brady Wilson is daar veral twee maniere om ons breine te energeer. Die eerste is om meer verhoudingsverbindings te bewerk. Wanneer mens meer tyd maak vir diep en sinvolle verhoudings dan word oksitosien in die brein afgeskei, wat dan ‘n nuwe golf van energie na die hele persoon meebring.

Die tweede manier waarop die brein energie ontvang is wanneer daar dopamien afgeskei word as gevolg die droom en visualisering van nuwe moontlikhede. Hierdie het te make met iemand se verbintenis en betrokkenheid tot ‘n groot en opwindende saak wat groter is as die individu self.

Die interessante is dat dit nogal is wat die koninkryk van Jesus vir ons bewerk: Dit plaas ons eerstens in ‘n verhoudingsnetwerk tussen God en allerhande soorte mense. In Jesus se koninkryk is verhoudings die taal wat gepraat word en sy kruis breek die mure af tussen mense. Dit maak die moontlikhede oop na versoenings en herstel. Dit bemagtig liefdevolle, diep verhoudings en verbintenisse met mense.

Tweedens is die koninkryk van Jesus by uitnemendheid dié verhaal wat ons help droom oor ‘n beter wêreld, herstelde verhoudings en ‘n hoopvolle toekoms. Dit kan ons motiveer en dryf daartoe om te droom oor nuwe moontlikhede in hierdie gebroke en gevalle wêreld van ons.

Die vraag is egter of ons genoeg droom, reflekteer en wonder oor Jesus en sy koninkryk. Laat ons toe dat dit ons gedagtes en harte gevange neem? Jesus is inderwaarheid die hart van sy eie koninkryk. Maar ons moet Hom egter toelaat om ons verbeelding aan te gryp en ons hele lewe te omvat, anders bly alles ook maar net ‘n oulike kantaantekening in ons gedagtewêreld.

Dit maak dus sin dat Jesus ons beveel:

... beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Saam met sy koninkryk mag dalk ander onverwagse dinge ook bykom soos energie, krag en ‘n lus vir die lewe!


bottom of page