Hoe belangrik is “land”?

October 18, 2017

Drie leerders van ʼn KwaZulu-Natalse skool is diep in die warm sop nadat ʼn foto waar hulle T-hemde met politieke slagspreuke vashou, wyd op sosiale media versprei is. Een van die slagspreuke lui: “... last hope of getting our land back.”

 

ʼn Facebook-gebruiker het een van vele gesprekke rondom die drie seuns se onbesonnenheid begin en mense het skreiende kommentaar gelewer. Om maar een voorbeeld te noem: “Die groot vraag is: wie is die ‘our’ waarvan gepraat word en watter land soek hulle terug? Sluit ‘our’ dan alle rasse in of is dit net gefokus op een ras? En die land wat hulle soek, bly en leer en eet hulle nie alreeds daarop nie?”

 

Die haat en woede hang swaar, verstikkend in die lug.

 

Ek wil nie oor eienaarskap, selfgeregtigheid, rassisme, grond, menseregteskending, onteiening, grondeise en die verknersing van minderheidsgroepe en so meer skryf nie.

 

Beide die seuns én kommentators se verwysing na “land” het my bloot laat wonder hoe Christene in hierdie debatte moet optree. Dit is immers ʼn warm, aktuele onderwerp in Suid-Afrika.

 

Die hele debakel het my herinner aan ʼn gedeelte wat ek onlangs gelees het. As deel van ʼn hoofstuk oor wat geloof nou eintlik is, skryf die onbekende skrywer in Hebreërs 11: “ As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. Maar hulle het na ʼn beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ʼn stad gereed gemaak.”

 

Blaai net om na hoofstuk 13: “… want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie…” En die woorde in 1 Petrus 2: “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners...”

 

Christene moet hulself afvra of dit die regte ding is om op ʼn wêreldse en driftige manier, asof ons permanente, hemelse burgerskap daarvan afhang, kommentaar te lewer op moeilike debatte rondom aardse eienaarskap.

 

As Christen weet en glo ek tog die volgende:

 

Ek is deur Christus nie van hierdie wêreld is nie; bloot daarin. Al my aardse besittings en verlangens is maar menslik-tydelik. My enigste meer permanente verbintenis met grond is die feit dat ek daarheen gaan terugkeer. En dan sal daardie bietjie aardse oorskot met tyd afbreek in iets só mikroskopies klein dat dit totaal onbelangrik blyk te wees in die meer permanente skeppingscène.

 

Ek weet dat ek op hierdie aarde maar ʼn bywoner is wat ʼn tydelike rol vervul: Ek moet in alles wat ek doen ʼn verlenging van Christus se heilige mond, hande en voete wees.

 

Ek weet ook dat ek in my aardse wandeling onderweg is na ʼn permanente, hemelse stad waarin daar reeds vir my ʼn woning voorberei is.

 

As ek hierdie dinge weet, moet ek mos leef en praat asof ek dit weet.

 

As ek leef en praat asof ek dit weet, blyk aardse dinge skielik minder belangrik te wees, of hoe?

 

Please reload

ONLANGSE ARTIKELS

November 12, 2019

November 6, 2019

November 5, 2019

Please reload

AFDELINGS & SKRYWERS
LEES SOORTGELYKE ARTIKELS
Please reload

© 2019 Ekerk Vereniging.

Trots gebou deur Ekerk.

Ekerk bankbesonderhede:


Ekerk Vereniging,

ABSA Bank, Takkode: 632 005,

Rekening: 4059 699 232

South Africa | Suid Afrika

Vind, volg & bevriend ons hier:

  • White Instagram Icon
  • White Facebook Icon
  • White Twitter Icon

Laai ons "app" af: