top of page
Writer's pictureRoedolf Botha

Wat gemaak met kerk?


Heel vroeg in enige Jesus-volgeling se lewe moet hy/sy besluit wat om te maak met kerk. Dit kan ‘n netelige taak vir sommige wees. Die rede is dat – alhoewel sommige kerke, denominasies en gemeentes goed vaar en goeie werk doen – die algemene gevoel blyk te wees dat gemeentes maar sukkel en dat die kerk-idee ietwat uitgedien is. Die persepsie is dat meeste Afrikaanse gemeentes nie by hou met die tyd nie, maar baie stadig verander, en poog om mense besig te hou met uitgediende praktyke en liturgieë. Selfs in onafhanklike gemeentes waar dit op die oog af baie beter gaan, breek daar kort-kort konflik uit tussen leiers, of iemand word uitgevang met die vingers in die kerkkoffers, of iets dergeliks. Indien die kerk dan God se gekose voertuig is waardeur die water van die lewe moet vloei, hoekom gaan dit nie beter nie? Hoekom hou God nie sy mense in toom nie? Baie mense gee sommer totaal boedel oor op kerk terwyl ander nog moedig probeer voortstoei om ‘n verskil te probeer maak. Hoe moet ons dan in ons gemoedere dink oor kerk?

Een persoon wat my gedurig help om te “cope” met die teleurstelling van kerk is Eugene Peterson, die vertaler van die Message Bybelvertaling. Hy wys ons daarop dat die kerk nog nooit in die geskiedenis werklik konsekwent fantasies was nie. Ja, ons het ons hoogtepunte gehad. Maar so ook skandes en ontnugterings. Ons is al tweeduisend jaar besig met kerk en dis nie asof die wêreld tou staan om kaartjies te koop nie. Kyk maar na gemeentes van die vroegste tye af soos byvoorbeeld die Korintiese gemeente. Reeds hier het ons al binnegevegte gekry tussen aanhangers van verskillende leiers, wêreldse lidmate, die misbruik van die gawes van die Gees asook blatante liefdeloosheid. Waarom is dit so?

Peterson verduidelik dat die kerk in die eerste plek sondaars nooi om deel te word van die gemeenskap. Mens moet dus nie veel verwag wanneer sondaars wel opdaag nie. Die resultaat sal beslis nie altyd op die oog af gewens wees nie.

Maar hy sê nog iets. Hy verduidelik dat die kerk van die Here die een instansie is wat die sondige aard van mense blootlê en uitdaag. Elke individu word uitgedaag om die donkerte in hulle eie gemoedere en lewens te identifiseer, ontmasker en die hoof te bied. Hier word die duisternis gekonfronteer met lig en dood gekonfronteer met lewe. Op ‘n sekere vlak is konflik dus die kerk se voorland. Peterson sê dat mens dus moet verwag dat plaaslike gemeentes soms die mees on-netjiese, ontstellende en troebel omgewings kan wees juis om hierdie redes.

Alhoewel Jesus geensins sondige of slegte gedrag in sy kerk goedkeur nie, moet ons egter nie dink dat Hy onkant gevang word deur die somtydse chaos in sy kerk nie. Peterson verduidelik dat ‘n onvolmaakte kerk juis die ideale omgewing is vir ‘n indiwidu om te groei en groot te word in Christus. As Jesus werklik eerstens geïnteresseerd is in die ontwikkeling van ons karakter, dan is ‘n gemeente met onvolwasse lidmate die plek om te wees. In volmaakte omstandighede sal jou karakter nie werklik maksimaal groei nie. Dis hoofsaaklik in onvolmaakte verhoudings waar jy die vrug van die Gees aanleer. Dis juis tussen onvolmaakte mense waar jy leer hoe om te vergewe, lief te hê, geduld te kweek en nie wraak te neem nie maar dit aan die Here oor te laat!

Philip Yancey vergelyk die kerk van Jesus met ‘n ou seilskip. Hy haal vir JF Powers aan wat oor sy eie skip gesê het:

“She’s a big old ship, Bill. She creaks, she rocks, she rolls, and at times she makes you want to throw up. But she gets where she’s going. Always has, always will, till the end of time. With or without you.”

So is dit met die kerk. Soms is dit lekker. Soms sukkel dit egter maar. Ander kere raak jy naar maar uiteindelik kom jy waar jy moet wees tussen al hierdie gebroke mense (waarvan jy deel is!). Ons moet nooit die krag en werking van Jesus deur sy Gees onderskat nie. Dis die wonderlike van Jesus se genade en krag: dat Hy werk ten spyte van ons gebrokenheid en nonsens.

Moet ons dus ooit opgee op die kerk? Nooit nie, sou Paulus sê. Vir hierdie gebroke kerk het Jesus dan juis gesterf en voorsien van ‘n nuwe identiteit. Elkeen van ons moet dus voort werk aan- en bid vir die vernuwing van ons eie gemeentes. Vertrou egter die Here se reis met sy mense. Dis immers aan hierdie selfde kerk vir wie Hy gesê het:

“En onthou: Ek is by julle, al die dae tot die voleinding van die wêreld” – Matteus 28:20.


bottom of page