Moenie bang wees om vir Hom te ly nie
top of page

Moenie bang wees om vir Hom te ly nie


Volgens Handelinge 8:4 het die gelowiges van die eerste Christelike gemeente wat uitmekaar gejaag is, net so ver as wat hulle gegaan het, die evangelie verkondig. Eeue daarna het God in een van die digste bevolkte lande in die wêreld, naamlik China, dieselfde benadering gevolg.

In 1949 het China ‘n kommunistiese land geword en die hooffokus van die Marxistiese leer was die totale uitdelging van alle godsdiens. In ‘n kort periode is al die sendelinge gedeporteer, kerkgeboue is toegemaak en duisende Chinese leraars in die tronk gestop. Die Christene het egter bymekaar gekom in huiskerke maar in plaas daarvan dat die lyding, vervolging en gevangenskap hulle swak gemaak het, het dit hulle juis sterker gemaak en kon hulle die Woord vinnig deur die hele China versprei. In God se raadsplan van die vestiging van sy kerk in daardie land, het sterk leiers na vore gekom soos Broer Yun wat in 1958 in die Henan-provinsie gebore is.

Op die ouderdom van sewentien is hy vir die eerste keer in hegtenis geneem omdat hy die evangelie verkondig het. Gedurende die volgende klompie jare is hy dikwels in hegtenis geneem en deur die Openbare Sekuriteitsburo ondervra en gemartel. Baie jare van beproewing en lyding het gevolg, maar die Here was besig om Broer Yun en sy mede-Christene te leer wat dit beteken om die pad van vervolging te stap (Openb. 2:10). Honderde huiskerkleiers is aangekeer en na werkerskampe toe gestuur waar baie van hulle terwille van hulle geloof tereggestel is.

Die jaar 1983 was ‘n verskriklike jaar van vervolging in China. Die druk op die Christene het ook veelvoudig toegeneem en kon hulle slegs op die Here en op mekaar vertrou om te oorleef. In hierdie tyd het hulle grootse wonderwerke en bonatuurlike verskynings soos visioene en goddelike genesings van die Here af beleef maar waaruit hulle groot krag geput het. Yun is vir die hoeveelste keer in hegtenis geneem en aan die allerverskriklikste marteling onderwerp. Sy enigste weerstand was om te vas en het hy die bykans onmoontlike reggekry om vir 74 dae sonder kos of water klaar te kom. Te midde van die marteling het hy egter voortgegaan om die Woord aan medegevangenes te bring. Yun het twee keer uit die gevangenis ontsnap deurdat God vir Yun onsigbaar vir die bewaarders gemaak het en hy eenvoudig by hulle verbygestap het.

Danksy die bereidheid van Christene om vir Christus te ly, het die kerk in China gegroei totdat dit vandag baie miljoene sterk is. ‘n Volledige beskrywing van Broer Yun se wedervaringe word uiteengesit in sy en Paul Hattaway se boek, GESANT VAN GOD, CUM 2004.


bottom of page