God se hart word gou jammer
top of page

God se hart word gou jammer


“ ... Ek bly getrou aan derduisende mense. Ek vergeet alles wat hulle verkeerd gedoen het...” Eksodus 34:7a

Soms sukkel ons om, wanneer ons ‘n tyd van God af wegbeweeg het, weer behoorlik kontak met Hom te maak. Dis mos asof ons hart dit maar net die 100% kan regkry om op Hom te fokus nie. Dis so half asof ons sy hand blý misvat ...

Miskien is dit omdat ons so vreeslik skuldig voel. Ons het dalk vir ‘n tyd lank so half op ons eie geleef, begin om die verkeerde te doen en lui geraak om stiltetyd te hou. En nou is ons soos ‘n stout kind half skaam oor onsself en wonder ons selfs of Hy nog lus is om ons terug te neem.

Dis dan wanneer ons maar net weer in die Woord moet lees hoeveel keer die Here al in die verlede weer sy kinders teruggeneem het. Hoor hoe mooi sê Hy vir Moses: “Ek is die Here. Ek is die God wat mense help. Ek is jammer vir mense en geduldig met hulle. Ek bly altyd getrou. Jy kan op My reken. (Eks 34:6)

Jy hoef nie vir God bang te wees of vir Hom weg te kruip nie. Hy ken jou, Hy weet van alles wat jy doen en dan ... het Hy jou steeds lief. Draai om en vra maar net: Here, gaan asseblief weer die pad saam met my.

Gees van God, vergewe my en wees weer deel van my.


bottom of page